Dikwels verdwyn ’n inbreker soos ’n dief in die nag en word nooit opgespoor nie terwyl die polisie lank kopkrap om die saak op te los.

Dit was nie die geval met Caleb Funke nie. Dié 22-jarige inbreker van Twin Falls in Idaho is sommer gou-gou deur die polisie opgeraap nadat hy ’n huis beroof het.

Die saak is so maklik opgelos, want Caleb het sy selfoon en motorsleutels binne-in die huis vergeet wat hy beroof het . . . en het daarna teruggekeer om dit te gaan haal.

’n Plaaslike inwoner het die polisie gebel en gesê daar is by haar huis ingebreek en talle vertrekke is geplunder. Kombuiskaste is oopgebreek en boeke het die wêreld vol gelê.

Tussendeur al die gemors kry die huiseienaar ’n vreemde selfoon op haar bed.

Agter die huis vind die polisie toe ook ’n silwer Chevrolet geparkeer met kontant en juwele op die passasiersitplek. Die motor was gesluit.

Kort daarna daag Caleb op en vertel die ondersoekspan sy “vriend” het kwansuis sy motor geleen en die sleutel daarin toegesluit. Terwyl Caleb nog besig was om met die polisie te gesels, kom die huiseienaar uit haar huis met ’n bos motorsleutels wat nie aan haar behoort nie.

Toe dié sleutels die motor oopsluit, verander Caleb dadelik sy deuntjie en hou vol hy is nie die inbreker nie, maar weet wie die skuldige is.

Die polisie het egter teen hierdie tyd genoeg van sy praatjies gehad en besluit toe om hom te deursoek. In een van sy sakke vind hulle toe ’n juweel wat aan die huiseienaar behoort.

Haar selfoon is ook in sy motor gevind.

Caleb is daarna in hegtenis geneem. Die polisie het intussen ook bevestig dat hy ’n verdagte in nog twee inbrake daardie selfde dag is.

Caleb het tot die bittereinde vol gehou dat alles ’n reusemisverstand is en het die polisie glo vertel hy het “per ongeluk” die venster van een van die huise gebreek omdat hy gedink het sy vriende woon daar.

Bronne: Magigvalley.com; Times-News; Yahoo News