’n Huiseienaar het hom boeglam geskrik toe hy ’n voornemende dief, Jason Hubbard, onder ’n bed aantref waar hy drie dae lank weggekruip het.

NBC berig Hubbard het in Mei by ’n oop deur in die huis in Spotswood, in die Amerikaanse deelstaat New Jersey, ingeglip terwyl die eienaar van die huis besig was om die vullis uit te neem. Die polisie het nuwe besonderhede oor die misdaad bekendgemaak. Hulle sê die indringer het by ’n gastekamer ingegaan, onder die bed weggekruip en drie dae lank dinge dopgehou. Terwyl hy daar weggekruip het, het hy sy vier selfone by ’n kragpunt naby die bed gelaai. Dit lyk of hy nie veel anders gedoen het nie. Dit is nie duidelik wanneer hy van plan was om iets in die huis te steel nie, maar voor hy dit kon doen, het die huiseienaar tot sy skok op Hubbard afgekom nadat hy ’n vreemde geluid in die gastekamer gehoor het. Hubbard is aangekla van strafregtelike betreding, inbraak en die steel van dienste.

Bronne: news.com.au, themirror.co.uk