’n Onlangse ondersoek het gewys die meeste vroue droom daarvan om met ’n miljoenêr te trou.

’n Jaar gelede het die 43-jarige Kim Perez nog in ’n apteek gewerk en toe besluit om daardie droom waar te maak, vertel sy aan die Britse joernalis Anna Pursglove.

‘Verlede lente vlieg ek New York toe vir ’n afspraak met ’n man wat ek nog nooit ontmoet het nie. Terwyl ek na die aankomssaal stap, stryk ek senuagtig my klere glad, bekommerd dat my noukeurig uitgesoekte klerekas nie spoggerig genoeg sal wees om ’n multimiljoenêr te beïndruk nie.

Dit is immers ’n man met ’n dakwoonstel in Florida, ’n ski-lodge in Colorado en ’n blyplek vir wanneer hy sake doen in New York. Hy eet in toprestaurante, drink die beste sjampanje en kan enige vrou kry.

Maar hy gaan nie met enige vrou uit nie; hy gaan met my uit – ’n verkoopsvrou in ’n apteek op die vaal ou dorpie Brigg in Noord-Lincolnshire, Engeland. En ja, ek het hom in die visier, nie net omdat hy aantreklik is nie, maar ook omdat hy hope geld het.

Ek het maande lank daaraan gewy om my voorkoms, en selfs my aksent, te verander, net sodat ek ’n ryk man kon ontmoet. En as dit oppervlakkig klink, laat ek van my verlede vertel.

Ek kom uit ’n baie nederige agtergrond en het die skool sonder enige kwalifikasies verlaat. Ek is net ná skool met my kêrel, Steven, ’n werktuigkundige, getroud en op 20 is ons dogter, Claudia, gebore.

Maar ek het altyd gevoel ek verdien ’n beter lewe. Nes mense wat glo hulle is met die verkeerde geslag of in die verkeerde era gebore, het ek gevoel ek is in die verkeerde sosiale klas gebore. Ek was uitgehonger vir die beste dinge in die lewe en die glans waarvan ek in glanstydskrifte lees.

Ek wou in mooi huise woon en ontwerpersklere en -juwele besit.

Al het mense my nog altyd as aantreklik beskryf, het ek daarvan gedroom om aan my neus en borste te laat werk. As ek regtig hierdie soort lewe wou lei, sou my volgende lewensmaat vanselfsprekend geld moes hê. En baie daarvan.

Maar waar moes ek na ’n ryk man begin soek?