Groot applous vir hierdie fyngoedmaatskappy in Nieu-Seeland wat ’n 56-jarige vrou bó ’n dingetjie in haar 20’s gekies het om as die ster van hul veldtog vir hul jongste herfs/winter 2017-reeks te skitter.

Mercy Brewer, die model, het in ’n gesprek oor haar keuse as Lonely Lingerie se model aan die Nieu-Seelandse webwerf Stuff gesê: “Opvattings oor skoonheid het nog altyd verander en dit sal altyd verander, dus dink ek ons kan tot die slotsom kom dat die norm nie in klip geëts is nie en daar altyd nuwe skoonheid sal wees wat wag om ontdek te word.
"Ek dink ons beleef tans ’n tyd waarin die skoonheid van ouer vroue ’n oorbluffende openbaring is. As ons dit nie raaksien nie, ontsê ons ons almal ’n toekoms om na uit te sien.”
Volgens Helene Morris, medestigter en ontwerper van Lonely Lingerie, is hulle trots daarop om ouer vroue te verteenwoordig.
“Die skoonheids- en modebedryf is behep met jeugdigheid, maar die werklikheid is dat ons almal ouer word, en dit gaan gepaard met so baie wonderlike dinge.”
“Die meeste boodskappe omtrent ouderdom het te doen met ingryping, en dit is ’n frustrerende reaksie op so ’n onafwendbare natuurlike proses.”

– Nici De Wet

Bronne: Stuff, People.com, Instagram