Usain Bolt (30) van Jamaika se Olimpiese medalje-oes van nege goue medaljes is Woensdag ’n knou toegedien nadat sy landgenoot Nesta Carter (31) positief getoets het vir ’n verbode middel.

Maar dit sou Nesta se Beijing-deelname aan die Olimpiese Spele wees wat vandag daartoe gelei het dat hy, asook Asafa Powell en Michael Frater, die goue medaljes wat hulle in die 4 x 100m-aflos gewen het, moet teruggee.

Toe Nesta se resultate weer getoets is, is daar bevind dat hy wel in 2008 ’n verbode middel gebruik het.

Of Nesta die eerste van talle skuldiges is, sal weldra duideliker word. Volgens berigte is daar 454 monsters wat tydens die Spele in Beijing geneem is, wat weer aan nuwe toetse onderwerp word.

Trinidad & Tobago word nou tot goue medaljewenner-status verhef. Japan skuif op na silwer en Brasilië verwerf brons.

Toe Usain in Junie 2016 uitgevra is oor die moontlikheid dat hy sy goue medalje dalk sal moet teruggee, het hy dit as "hartverskeurend" bestempel.

"Vir jare werk jy hard om medaljes te verwerf en jy werk hard om 'n kampioen te wees, maar dis een van daardie dinge," het hy aan die Jamaica Gleaner gesê.

"Ek is meer bekommerd oor die atleet en hoop dat hy daardeur sal kom." Usain word as die beste naelloper ooit beskou. Tatiana Lebedeva van Rusland wat silwer in die vroue-driesprong en verspring gewen het, is ook gediskwalifiseer nadat haar resultate weer getoets is. Bronne: cnn.com, firstpost.com, bbc.co.uk, jamaica-gleaner.com

Twitter se reaksie