Die vyf kinders wat na bewering deur hul pa in ’n huis in Springs gevange gehou is, het almal IK-toetse ondergaan, het Beeld Donderdag berig.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het IK- en persoonlikheidstoetse uitgevoer op die kinders (onderskeidelik twee, drie, vier, 11 en 16 jaar oud) om te bepaal of hulle in ’n skool sal kan aanpas en of hulle remediërende onderrig benodig.

Die opvoedkundige sielkundige Linda de Rooster het gesê die kinders moes geëvalueer word omdat albei hul ouers leergestremdhede het.

Dit was ook belangrik om vas te stel of hulle enige psigiatriese of neurologiese probleme het.

Volgens Linda sou dit makliker wees vir die jonger kinders om in die skool aan te pas, maar die ouer kinders gaan waarskynlik sukkel.

Hul pa gaan na verwagting weer Donderdag in die hof verskyn; hy word daarvan beskuldig dat hy sy vrou en kinders aangerand en gevange gehou het.

- Sapa