Hy is die goedgemanierde dog geheimsinnige veeboer van Theunissen in die Vrystaat. Ignus (28) soek ’n vrou met ’n goeie humorsin. Sy moet plat op die aarde, aantreklik en behulpsaam wees. Tans is daar drie mooi vroue op sy plaas: Huné, Jean-Marie en Arlene.

Maar vanaand moet hy een uitstem. Ons het ’n bietjie meer oor hom gaan uitvind.

_MG_6036

Hoe sou jy jou beskryf?

Eerlik, opreg, reguit en ek weet wat ek in die lewe wil hê.

Hoekom is Boer Soek ’n Vrou ’n goeie platform om ’n lewensmaat te ontmoet?

Dit beteken nie jy sal jou lewensmaat ontmoet nie, maar bied jou die geleentheid om dalk iemand te ontmoet as gevolg van die blootstelling wat jy nie in ’n plattelandse gemeenskap sal kry nie.”

Jou ma, Edna, is ’n opgeleide verpleegster en tans ’n tuisteskepper. Sy het baie gehelp om jou huis reg te kry vir die vroue. Soek jy ’n vrou wat soos jou ma is?

Sy is my ideale rolmodel vir ’n goeie ma en lewensmaat.

Wat was vir jou tot dusver die moeilikste op die program en hoe het jy dit ervaar?

Om die vroue uit te stem; dit was senutergend.

Wat maak Theunissen ’n lekker plek?

Die mense en die boeregemeenskap en die Theunissen-rugbyklub.

Jy speel rugby . . . As jy ’n vrou moes kies uit ’n vroulike rugbyspan, watter posisie moet sy speel en hoekom?

Verkieslik moet sy nie rugby speel nie, maar as dit moet, moet sy skrumskakel speel, dan sal sy waarskynlik korter as ek wees, vinnig en lig voetig . . . (Hy lag lekker.)

As jy ’n meisie moet oortuig om van jou te hou deur vir haar kos te maak, wat sal dit wees en hoekom?

Hoop nie ek sal ooit in daardie posisie moet wees nie, maar indien wel, sal dit heel waarskynlik ’n romantiese ete wees wat beslis vleis en ’n lekker glasie wyn insluit.

Jy het al internasionaal gewerk. Waar en wat het jy daar gedoen?

Ek het vier jaar vir ’n internasionale dieregesondheid-maatskappy gewerk hier in Suid-Afrika en ook drie maande hul Midde-Oosterse kantoor bestuur. Tans werk ek vir ’n Oostenrykse maatskappy, Biomin, wat veevoer byvoegsels vervaardig.

As jy iewers anders ter wêreld moes gaan woon, waar sou dit wees en hoekom?

Ek sal nie graag my plaas of Suid Afrika wil verlaat nie, maar indien wel, sal dit Australië wees. Ek is gek oor die mense en land en hulle boerderybedrywighede.

Deur: Loren Pienaar (@Loren_Pienaar)