IN die misdaadgeteisterde township in KwaZulu-Natal waar hy grootgeword het, het hy een van twee keuses gehad.

“Ek sou óf in die tronk beland óf ek sou ’n dwelmhandelaar geword het. Dis wat met almal daar gebeur,’’ sê Lloyd Siyabonga Cele.

Maar vandag is hy ’n Idols-finalis met groot drome om vir sy seun ’n beter lewe te gee as die een wat hy self as kind geken het.

Dit was ’n lang pad van KwaMashu tot op die Idols-verhoog. Hoe ver en hoe moeilik dit was, weet net die groot man met die ewe groot stem wat deesdae ook voorsanger en musiekregisseur by sy kerk is.

Daar in die township buite Durban wat volgens die jongste misdaadstatistiek die gebied met die hoogste moordsyfer in die land is, was hy al amper self ’n slagoffer van bendegeweld. ’n Koeël het hom een aand rakelings gemis en daarna is hy erg aangerand en vir dood agtergelaat.

Lloyd (28) het destyds net betyds uit sy omstandighede weggebreek, vertel past. Vernon David. Hy was 10 jaar gelede daar toe die jong sanger sy rug op dwelms, drank en bendegeweld gekeer het en nou sit hy elke week voor in die gehoor wanneer Lloyd alles op die Idols-verhoog uithaal.

Noudat Lloyd sy bande met die bendes verbreek en die dwelms, alkohol en slegte vriende agtergelaat het, het hy ’n simbool van hoop en inspirasie geword vir die mense wat steeds daarin vasgevang is.

“Ek het baie seer gehad waardeur ek moes werk,” vertel Lloyd (28), met sy vrou, Janice (28), langs hom. “Ek het nie ’n verhouding met my pa gehad nie. Ek het hom vier of vyf keer in my lewe gesien. Hy was nooit daar om my park toe te neem of te gaan sokker speel of net vaderlike raad te gee nie.”

Een van die redes waarom hy vir Idols ingeskryf het, is juis om ’n beter pa vir sy seun, Levi (1), te wees en sy gesin ’n beter toekoms te gee. “Ek wil altyd daar wees vir Levi en Janice en vir hulle alles gee wat ek kan.”

En soos hy nou op die Idols verhoog sing, gaan hy daardie klein mannetjie in sy arms nog baie trots op sy pa maak...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 23 September 2010