TOE sy instap met haar noupypjeans, blink toppie en supermodelvoorkoms, het die manlike beoordelaars in die Idols-sangkompetisie se oë so groot gerek dat hulle haar sommer op die plek wou deursit na die volgende ronde.

Wat nog lol met ’n singery, mooi is mooi – so het die manne blykbaar gereken toe dié beeld voor hul oë verskyn.

Maar grap of te nie, Adeline Mocke (22) wou niks daarvan hoor nie. “Dis ’n kompliment, maar dis Idols; ek’s nie daar vir modelwerk nie,’’ vertel sy hier in haar ouerhuis op Lambertsbaai aan die Weskus.

Toe trek sy daar in die ateljee los met Black Velvet, haar ma se gunsteling-liedjie, en so sing die meisie van die Strand sommer al vier die beoordelaars tjoepstil.

Dis ’n paar dae voor sy haar tasse moet pak vir die volgende fase van Idols in Johannesburg, en die beeldskone blondine en deeltydse model vertel sy kon die trane nie keer toe Gareth haar pa bel met die goeie nuus dat sy dogter tot die volgende ronde deurdring nie.

Pa Avril was in die apteek toe die oproep kom, en het net begin gil. ‘‘Toe ek hoor dis Gareth Cliff, was ek so verbaas dat ek eers gemaak het asof die sein sleg is sodat ek kalm kon raak,’’ lag hy.

Vir die hele gesin was dit ’n tyd vol emosie, want kort voor Adeline se oudisie het hulle die wonderlike nuus ontvang dat Avril se kolonkanker eindelik in remissie gegaan het.

Twee jaar gelede was hul dogter besig met modelwerk in Indië toe die kanker gediagnoseer is, vertel ma Carin. En die toekoms het donker gelyk, want dit het ook al na sy lewer versprei.

Nou dié dubbele vreugde vir die Mocke-gesin – dis mos rede tot trane . . .

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 19 Augustus 2010