HY WEET hoe dit is om glorieryke seges en verpletterende tragedies te ervaar.

Daarom was hy voorbereid op enige uitslag, goed of sleg, toe die wenner van Idols 6 aangekondig word.

En dié keer het Elvis toe geseëvier – Suid-Afrika het hom gekies as wenner van die gesogte Idols-kroon. Sy beker was reeds vol, en nou loop dit behoorlik oor ná die pyn en hartseer wat hy tot twee jaar gelede beleef het.

Dinge gaan deesdae voor die wind vir Elvis en sy vrou, Cherize.

Die stryd om die Idolskroon was eintlik ’n vulletjie vergeleke met die egpaar se swaarkry in hul stryd om ouers te word.

Elvis – sy regte naam is Jan Hoogendyk – en Cherize (31) het drie jaar gelede geglo hul gesin brei nou uit na drie, maar toe word die dogtertjie wat hulle wou aanneem, eensklaps van hulle weggeneem.

Haar naam was Faith, en haar mamma is dood toe sy maar net ’n paar weke oud was. Maar sy het enkele weke voor haar dood ’n buurvrou gevra om haar kind by ’n veilige hawe te besorg as sy sou sterf, en die buurvrou het haar geneem na die kinderhuis op George waar Cherize as bemarker werk.

Faith was enkele maande oud toe Cherize haar vir die eerste keer daar opmerk. Sy en Elvis was albei onmiddellik verlief op die meisietjie.

“Daar was net iets anders aan haar as aan die ander kinders,’’ vertel sy. “En toe ons haar tragiese storie hoor, het ons geweet ons wil haar ’n deel van ons lewe maak.’’

Cherize het in daardie stadium gesukkel om swanger te raak, en hulle het Faith naweke begin huis toe neem. Sy was toe net ouer as ’n jaar, en sy was gek daaroor om saam met hulle winkels toe te gaan, te gaan swem of by hul vriende te kuier.

Cherize het steeds gesukkel om swanger te raak, en kort ná Faith se tweede verjaardag het die egpaar besluit om haar aan te neem. Hulle was in die wolke, en ’n jaar lank het dit gelyk of alles goed gaan uitwerk. Maar toe gebeur die ondenkbare: ’n Maatskaplike werker het die kind se biologiese pa in Nigerië opgespoor waar hy gewerk het.

“Ons het baie hard gehoop die pa sou instem daartoe, en nie een keer eens gedink aan die moontlikheid dat Faith van ons af weggevat gaan word nie,” sê Cherize sag. “Ons was platgeslaan

toe ons hoor die aaneming sal dalk nie uitwerk nie.”

Dit is duidelik vir haar steeds moeilik om daaroor te praat. Die egpaar was verpletter toe hulle hoor Faith se pa wil haar terugneem.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 11 November 2010.

[gallery link="file" order="DESC"]