Deur: Suzaan Hauman

Foto’s: Riaan Labuschagne

Wanneer die Idols-beoordelaars ná strawwe uitdunrondes die top-16 vir die eindronde bekendmaak, word daar op ons skerms gelag en gehuil: die vreugde van dié wat wel gekies is, word gedemp deur die trane van die ongelukkiges wat uitval.

Sy hare is langer as toe die opname van daardie gesprek gemaak is, maar hy onthou nog die gevoel. “Dit voel natuurlik glad nie lekker nie. Toe ek uitvind, het dit vir my gevoel asof ’n stukkie van my siel uitgeskeur is.”

Hy het die kykers en die beoordelaars se aandag getrek, nie net vanweë sy unieke stem nie, maar ook omdat hy die neurologiese steuring Tourette-sindroom het. Dit word gekenmerk deur herhalende onwillekeurige refleksaksies (“tics”) – óf van spiere óf in spraak. Dit is op sewejarige ouderdom gediagnoseer by Edward en sy tweelingbroer, Richard.

Waar hy op die bank in sy ouma Faye Mynhardt (82) se huis sit en gesels, sou ’n mens egter nie dadelik kon raai dat hy Tourettes het nie. “My Tourettes word beskou as van ’n hoë graad, maar ’n mens sal dit nie sê nie omdat ek dit bewustelik en met medisyne onder beheer hou.”

Sy spesifieke onwillekeurige optrede sluit in om aan voorwerpe, onder meer sy vingers, te ruik, hardop te dink, te steun, sy oë te rol, sy kop te ruk en te vloek. “Dis asof ’n mens se brein en liggaam net oorbelaai is . . .  dit hardloop net weg. En dan het ’n mens ’n uitlaatklep nodig vir die energie – óf mondelings, deur byvoorbeeld oor en oor te vloek, of miskien deur herhaalde kopbewegings.”

Om met die siekte te leef is nie maklik nie, erken hy. “Kleintyd is ek en my broer dikwels uit die klas gejaag omdat ons geluide gemaak het wat ons nie kon beheer nie. Onderwysers het dit nie verstaan nie en bloot gedink ons is stout. Ek weet nie of ek dit ooit sal kan vergeet nie; dit het ’n groot impak gehad om my te vorm tot wie ek vandag is.”

Het dit al makliker geword noudat hy meer beheer oor sy optrede het? Hy dink eers na voor hy antwoord. “Dit word anders. Ek sukkel op ’n sosiale vlak. Ek lewe daarmee, maar dis amper asof ek permanent my asem ophou. Ek kan nooit heeltemal ontspan nie.”

Maar wanneer Edward sy kitaar vashou en begin sing, is dit asof die simptome heeltemal verdwyn. “Dit is iets wat ek nog my hele lewe hoor. Ek kry ’n unieke soort selfvertroue wanneer ek optree. Wanneer ek ’n opname van myself sien, kan ek beslis steeds die Tourettes sien, maar dit is minder erg.”

Hy het al baie gewonder oor die rede hiervoor. “Ek dink ek word so vasgevang in die ritme van die liedjie dat ek losgemaak word van my eie, gewone ritme. Ek laat my toe om al my frustrasies in die liedjie uit te druk. Dis hoekom ek musiek nodig het . . . dis ’n veilige uitlaatklep vir my Tourettes.”

Edward het tot in gr. 10 skoolgegaan, maar toe ’n tegniese kwalifikasie in elektriese ingenieurswese aan ’n kollege in Port Elizabeth behaal. Daarna is hy universiteit toe om informasietegnologie te studeer, maar hy het die studie ná ’n jaar gestaak.

“Die kursus was my pa se keuse, nie myne nie. Ek was nog so jonk.” ’n Familielid het toe vir hom werk aangebied by ’n video-vervaardigingsmaatskappy, waar hy “iets van alles” gedoen het. “Ek wou graag ’n bestaan voer uit musiek, maar ek het geweet dis moeilik, duur en nie baie prakties nie.”

In 2009 is Edward Brittanje toe waar hy as ’n kelner gewerk het. Met sy terugkeer in 2011 het Edward baie depressief geraak. “Ek was in ’n verhouding wat glad nie goed was vir my nie. Ek het begin dwelms gebruik en ’n ineenstorting gehad.”

Die gevolg was twee maande in die Sterkfontein-rehabilitasiekliniek buite Potchefstroom. In die kliniek het die personeel hom dikwels gevra om op te tree by van hul geleenthede en hy moes ook ’n kooroptrede aan mekaar help sit.

Sy sielkundige in die kliniek het vir hom gesê dis belangrik om iets te hê waarop hy kan konsentreer. “Ek het musiek gekies. Dit hou my aan die lewe. Dit is soos ’n godsdiens vir my,” sê hy geesdriftig en beduie na die tatoe op sy arm wat verklaar “Musiek is my lewe. Lewe is musiek.” Die kliniek-verpleegsters het hom aangemoedig om vir Idols in te skryf en hy het dit toe een van sy doelwitte gemaak. Sy gesig word ernstig. “Ek sal liewer ’n boemelaar wees wat kitaar speel en sing as iemand wat in ’n bank werk en geld maak. Wees eerder ’n man van waarde as ’n man van geld.”

’n Liefde vir die kunste vloei beslis in sy are. Pa Nicholas was jare lank die dekaan van die destydse PE Technikon se fakulteit van kuns en ontwerp. Vandag is hy direkteur van internasionale betrekkinge aan die Noordwes-universiteit. Sy ma, Odette, en suster, Gabrielle Richards, is albei ’n kunsonderwyseres, terwyl sy tweelingbroer, Richard, ’n tatoe-kunstenaar is. “Dis interessant. Ek en Richard het albei ’n belangstelling in kuns en musiek. Maar hy het gekies om meer in die kunsrigting te gaan, terwyl ek musiek my lewe wil maak.”

Edward speel en sing gereeld in restaurante en kuierplekke in Port Elizabeth. Tussendeur werk hy ’n paar skofte per week as ’n kelner en bestuurder in een restaurant en doen hy steeds vryskutwerk vir die video-vervaardigingsmaatskappy. “Ek is besig om ’n nuwe liedjie op te neem en ek sal ’n paar platemaatskappye daarmee nader. Dan kyk ons maar wat gebeur!”

Hy bly by sy ouma omdat dit net te duur is om sy eie plek te huur. Hy help haar met takies in die huis en betaal ook ’n bietjie huur. “Ons het ’n wonderlike verhouding. Sy is die beste ouma in die hele wêreld, soos ’n tweede ma vir my. Sy is soos moeder Theresa.”

Sy lewe was nie maklik tot dusver nie, vertel Edward. Sy ouers is geskei toe hy 13 was en dit was beslis nie altyd ’n gelukkige gesinsomgewing nie. “Maar ek is dankbaar vir my lewe, al die dele daarvan. Ek glo vas ’n mens kan nie ’n regte kunstenaar wees as jy nie lewenservaring het om dit te ondersteun nie. Ek het dit al soveel keer gesien: Mense wat regtig ander mense aanraak, is mense wat iets unieks het, mense wat ’n woeste lewe gelei het.”

Ten spyte van die teleurstelling, is hy dankbaar vir die Idols-ervaring. “Dis lekker om so ’n bietjie erkenning te kry vir wat jy doen. Dit het my die kans gegee om almal in my lewe wat al ooit vir my gesê het: ‘Jy’s niks, jy kan nie dit of dat doen nie,’ te wys ek kan. Ek laat my nie sommer onderkry nie.”

Gevra vra watter eienskappe hy het wat hom kan help om ’n sukses te maak van sy musiekloopbaan, dink Edward eers lank na. Dan help ouma Faye, wat nog heeltyd sit en luister: “Deursettingsvermoë. Hy oefen ure en ure. Oefen, oefen, oefen, asof hy mal is!” Edward lag. “ Ja, ek het beslis toewyding. Ek kan letterlik leef in die opnameateljee. Ek sal dae aaneen nie slaap nie, dit is hoe lief ek vir musiek is.”

idols 1