Idols-aanbieder ProVerb, of Tebogo Thekiso, het vanoggend ‘n 37-jarige voetganger met sy motor raakgery kort nadat sy radioprogram om 06:00 by Highveld Stereo geëindig het.

ProVerb (30) was op pad huis toe, toe die ongeluk kort ná 06:00 in Paul Kruger-rylaan in Roodepoort plaasgevind het. ProVerb het onlangs by Highveld Stereo ingeval waar hy tussen 04:00 en 06:00 ‘n program uitsaai.

“Ek is baie geskok en platgeslaan oor wat gebeur het,” het die aanbieder wat nou die tweede keer in M-Net se Idols te sien is, in ‘n verklaring gesê.

“Dit was ‘n ongeluk en ek probeer die vrou en haar werknemer sover moontlik ondersteun.”  Die sanger en TV-persoonlikheid het saam met die Zimbabwese vrou op die ongelukstoneel gebly en is ook saam hospitaal toe.

“Ek weet net sy het geen bene gebreek nie. Sy het wel ‘n kopbesering opgedoen, maar ek wag nog om te hoor hoe ernstig dit is.”

Volg Huisgenoot op Twitter.