TOE die dik miskombers vroegoggend tussen die Knysna-koppe deur wegrol, slaak Melanie Lowe ’n sug van verligting.

Nou sal sy en haar verloofde soos twee prinsesse op Noetzie-strand met sy klipkastele kan trou.

Maar terwyl sy  haar trourok aantrek, begin die donker onweerswolke oor Sedgefield saampak.

“Dis nie ’n goeie teken nie. Ons moet opskud,’’ sê Melanie angstig en vee haar blonde lokke uit haar gesig.

In haar wasige trourok lyk sy vandag heel anders as die Idols-finalis van 2002 met die kortgeknipte wit hare.

Sy was toe derde, maar sy het haarself sedertdien as bekroonde liedjieskrywer bewys en al saam met internasionale sterre soos Westlife en Katie Melua opgetree.

Sy het ook twee soloalbums agter haar naam: een in Afrikaans getiteld As, en ’n nuwe album saam met John Ellis van die gewilde Durbanse groep Tree63 sal aanstaande maand op die rakke wees.

Intussen word haar naam genoem saam met dié van ander lesbiese glansmense soos die Amerikaanse TV-persoonlikheid Ellen DeGeneres wat nie probeer wegsteek wie hulle is nie, maar mense se persepsie wil verander oor wat die liefde en die huwelik behoort te wees.

Vandag, op 35, trou sy. Maar eers moet sy saam met haar gevolg teen tientalle steil trappe aftrippel tot waar die 38-jarige Gaye Martin digby die branders op haar wag.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 17 Maart 2011