Van die oomblik dat hulle vir die moord op die 80-jarige Yaseen Nichols in hegtenis geneem is, het die saak sekere uitdagings gebied aan die ondersoekers, aanklaers en Wes-Kaapse hooggeregshof.

Eerstens het die twee enige betrokkenheid by die voorval ontken en beweer dit was ’n sameswering teen hulle.

’n Paneel sielkundiges het bevind hulle is geskik om verhoor te word en om regsverteenwoordigers opdrag te gee.

Hulle het herhaaldelik prokureurs “afgedank” en later geëis dieselfde regshulpprokureur moet hulle verteenwoordig. Dit het misluk en eindelik het hulle hulself verteenwoordig.

[caption id="attachment_160268" align="alignnone" width="300"]Foto: Jenna Etheridge, News24 Foto: Jenna Etheridge, News24[/caption]

Die Williams-broers het gekies om nie te getuig of getuies tot hul verdediging te roep nie. Die hof moes alleenlik op die staat se getuienis staatmaak.

Aangesien hulle identies is, het die 29-jariges dieselfde DNS.

Dit was egter die sterk omstandigheidsgetuienis wat waarnemende regter Janet McCurdie tot die gevolgtrekking laat kom het dat die twee ongetwyfeld skuldig is.

Dit het die getuienis ingesluit bure wat die mans gesien het en ’n forensiese patoloog wat bevind het net twee mense kon die beserings toegedien het.

Yaseen is op die oggend van 8 Mei 2014 ten volle geklee met sy gesig na onder onder ’n duvet op sy bed gevind.

Hy is versmoor of verwurg en het beserings gehad wat met ’n stomp voorwerp toegedien is.

Van die items wat by hom gesteel is, was R217 kontant, ’n reistas, twee kameras, ’n koordlose telefoon, twee brille, klere, lyfroom, ’n Sassa-kaart, rybewys en paspoort.

Nadat hy nie soos gewoonlik vroegoggend in die tuin gewerk het nie, het een van die bure oorgestap en ’n gebreekte koppie en uitgestorte koffie by die geslote agterdeur gekry.

Sy het die twee mans wat oor die muur tot in ’n aangrensende eiendom gespring het later herken as ’n tweeling wat sy geken het sedert hulle klein was.

Die buurvrou naaste aan die agterdeur het dit hoor oopgaan en ’n man oor haar heining sien spring. Hy het amper teen haar gestamp. ’n Tweede man het oorgespring en teen haar gestamp.

“Sy het die man in die gesig gekyk, gesien dit lyk nes die eerste man en besef hulle is ’n identiese tweeling,” het Janet Dinsdag in haar uitspraak gesê.

Sy het gesê die buurvrou se getuienis was uiters belangrik, want sy het toe nog nie lank op Wellington gewoon nie en die tweeling nie geken nie.

“Haar getuienis was spontaan. Sy het nie gehuiwer nie.”

Die twee se DNS het oorgeengestem met dié wat onder Yaseen se vingernaels gevind is.

’n Forensiese patoloog het bevind Yaseen het ’n stadige dood gesterf.

“Die kneusplekke aan die lyk het daarop gedui dat twee mense by die voorval betrokke was. Een mens sou die mens vasgedruk het en die tweede sou hom met die hand verwurg het.”

Die hof het gesê ná Yaseen se vrou se dood het hy ’n eenvoudige lewe gelei.

Aangesien hy ten volle geklee en van sy ontbyt nog op ’n bord in die kombuis oor was, is hy waarskynlik om en by agtuur vermoor – soortgelyk aan die tyd wat gesien is die mans verlaat die toneel.

Die regter het gesê die beskuldigdes kon nie bevredigend verklaar hoe van Yaseen se besittings by hulle gekry is nie.

Hulle kon ook nie die DNS-bewyse verklaar of bewyse bied dat hulle ten tye van die misdaad elders was nie.

Die hof het wel bevind daar was onvoldoende bewyse om hulle aan inbraak skuldig te bevind. Die broers is aan moord en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.

Die twee, wat jeans en bypassende blou-en-wit streephemde aangehad het, het gefrons toe die uitspraak gelewer is.

Hulle het na die openbare galery opgekyk voor hulle na die polisieselle begelei is.

Die vonnisvertoë sal op 24 Maart aangehoor word.

Bron: News24