Luis Flores (19) en sy kamermaat, Kyah Green (41) is onlangs in hegtenis geneem nadat hulle glo meer as R700 000 uit Kris Jenner (57) van Keeping Up with the Kardashians-faam se bankrekening na hulle s’n oorgeplaas het.

Kris se dogter Kim Kardashian (32) het ook deurgeloop. Luis en Kyah het na bewering hul hoëprofielslagoffers se maatskaplike-sekuriteitsnommers (MSN’s) gebruik om wederregtelik geld uit American Express te kry.

Die verdagtes het glo die privaat inligting bekom toe dit vroeër vanjaar deur kuberkrakers bekendgemaak is. Die twee het die kredietkaartmaatskappy gebel en versoek dat die MSN’s verander word wat aan elke bekende se rekening gekoppel is.

Hulle kon toe meer as R700 000 uit Kris se bankrekening na hulle s’n oorplaas, word berig.

Ander Hollywood-teikens is Beyoncé, Ashton Kutcher, Mel Gibson en Paris Hilton, terwyl politici soos Hillary Clinton, Joe Biden en Michelle Obama ook al slagoffers was, volgens die skinderwebtuiste RadarOnline.com.

Die verdagtes is op 7 Augustus by hul woonstel in Lake Mary, Florida, in hegtenis geneem en verskeie klagte staar hulle in die gesig.