Ian Thorpe se bestuursonderneming ontken mediaberigte dat die vyfmalige Olimpiese swemkampioen in ’n rehabilitasiesentrum vir depressie en drankmisbruik behandel word.

“Ian is nie in rehabilitasie nie. Ian was in die hospitaal vir ’n operasie aan sy skouer en is verheug om sy vriende en aanhangers te laat weet hy is nou uit die hospitaal en aan die herstel,” het Ian se bestuursonderneming, SEL, Vrydag in ’n verklaring gesê.

Ian het in sy loopbaan 13 langbad-wêreldrekords opgestel en was een van die sterre van die Olimpiese Spele van 2000 in Sydney. Hy het in 2006 uit mededingende swem getree. In 2012 het hy ’n terugkeer probeer maak, maar kon nie die Australiese span vir die Olimpiese Spele in Londen haal nie.

In sy outobiografie, wat verlede jaar uitgegee is, sê Ian hy het die grootste deel van sy lewe ’n stryd teen “verlammende” depressie gevoer.

Hy woon die afgelope 18 maande in Switserland, maar het Kersfees na Sydney teruggekeer om die Kerstyd saam met sy familie deur te bring.

News Corporation het Dinsdag berig die 31-jarige is Woensdag in die hospitaal opgeneem nadat hy geval en hom beseer het. Die nuusorganisasie het ’n vriend van Ian aangehaal wat gesê het “hy het ’n ongeluk by die huis gehad. Hy het gegly en seergekry. Ons hoop hy is oukei en herstel ten volle.”