Gedurende hul verhouding het Oscar Pistorius haar elke keer wakker gemaak as hy iets in die nag gehoor het.

So het Samantha Taylor, Oscar se voormalige meisie, vandag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria tydens Oscar se moordverhoor getuig.

Samantha het van 2011 met Oscar uitgegaan. Sy het getuig sy en Oscar was steeds bymekaar toe Oscar in November 2012 die model Reeva Steenkamp na ’n sportprysuitdeling geneem het. Samantha en Oscar het daarna uitgemaak.

“Daar was een geleentheid waar Oscar my wakker gemaak en gevra het of ek iets gehoor het. Daar was ’n storm daardie aand. Oscar het opgestaan, sy vuurwapen gevat en uit die kamer gestap. Ek weet nie wat buite die kamer gebeur het nie,” het Samantha getuig.

“Daar was twee of drie ander kere dat Oscar my ook in die nag wakker gemaak het om te hoor of ek iets gehoor het.”

Sy het gesê daar was nooit ’n geval waar Oscar in die nag van iets sou wakker word en haar eers die volgende oggend daarvan sou vertel nie. Hy het haar altyd eers wakker gemaak.

Samantha het verder getuig dat Oscar aan die regterkant van die bed geslaap het. Hy het altyd sy vuurwapen langs sy bed neergesit of by sy prostese. Barry Roux, Oscar se regsverteenwoordiger, het dit aan haar gestel dat Oscar sy vuurwapen onder sy bed gesit het. Samantha het gesê hy het nooit wanneer sy by hom was die vuurwapen onder sy bed gesit nie.

Barry het verder gesê dat Oscar die aand voor Reeva se dood op die linkerkant van die bed geslaap het omdat hy ’n skouerbesering gehad het.

Die verhoor het ná middagete voortgegaan. Die staat het Pieter Baba geroep. Hy is ’n veiligheidswag by die Silver Woods Country Estate, die landgoed in die ooste van Pretoria waar Oscar ten tyde van die voorval gewoon het.

- Hilda Fourie