“Hy was my alles,” het ’n geskokte Mayte Garcia (42), ma van Prince se enigste kind en die inspirasie vir sy treffer The Most Beautiful Girl in the World, gesê.

A photo posted by Mayte Garcia (@maytejannell) on

“Ek kan nie eens die woorde vind om te beskryf hoe ek voel nie,” het Mayte op Instagram geskryf by ’n pragtige foto van haar en haar eksman. Op die foto, wat in haar huis hang, glimlag die danseres skamerig terwyl die sanger haar styf teen hom vasdruk.

“Hierdie man was my alles; ons het ’n gesin gehad,” het die Puerto Ricaanse skoonheid geskryf. “Ek is hartseer en verpletter.”

Lees ook: Pop-ikoon sterf ná sowat drie dekades van sukses

Die musieklegende (57) is Donderdagoggend dood aangetref by sy Paisley Park-landgoed in Chanhassen, Minnesota. Nadat die tragiese nuus bekend geword het, is Mayte in Los Angeles gesien huil terwyl sy met iemand op die foon praat, berig MailOnline. Die twee het mekaar in 1990 ontmoet en Mayte is daarna aangestel om tydens een van Prince se toere te dans. Hulle is in 1996 in Minneapolis getroud. Hulle het kort daarna ’n seun, Gregory, gehad. Pfeiffer-sindroom, ’n seldsame genetiese afwyking wat die skedel en bene in die hande en voete affekteer, is by hom gediagnoseer, en Gregory is ’n week ná sy geboorte dood. Die paartjie is kort daarna uitmekaar en hul huwelik is in 1999 nietig verklaar. “Ek het hom toe liefgehad, ek het hom nou lief en ek sal hom altyd liefhê,” sê Mayte. “Hy is nou by ons seun.” Mayte het sedertdien ’n dogter, Gia, aangeneem wat nou vier jaar oud is.

A photo posted by Mayte Garcia (@maytejannell) on

Die besonderhede rondom die popster se dood is nog onduidelik en die polisie in Carver County ondersoek nog die saak.

Luidens verskeie berigte was sy dood dalk dwelmverwant. Volgens TMZ is die Purple Rain-sanger verlede week vir dwelmverslawing behandel nadat sy privaat straler ’n noodlanding in Illinois moes uitvoer, enkele ure nadat hy in Atlanta opgetree het.

“Prince is inderhaas hospitaal toe geneem en dokters het hom ’n ‘reddingsinspuiting’ gegee,” berig TMZ. “Dit word gewoonlik toegedien om die uitwerking van ’n opiaat teen te werk.”

Bronne: TMZ, People, MailOnline

Lees ook op Huisgenoot.com:

Ontmoet al die koninklike kleinkinders op die foto wat vir die koningin 90ste verjaardag geneem is

Talle Afrikaanse kunstenaars pryk op Sama-nominasielys

Vreugde, moed en eindelik trane – alles binne ’n lewe van net ’n paar uur

En daar vertrek die sonaangedrewe Solar Impulse 2 vir ’n reis om die wêreld!