Hy is die Amerikaanse rapper, sanger en akteur met die vlegsels en die koel verhoogpersoonlikheid wat ons almal in die 90’s as Snoop Dogg leer ken het. Maar as jy nog sukkel om gewoond te raak aan sy nuwe identiteit as Snoop Lion – soos hy homself van verlede jaar af noem – is hy jou reeds een voor met sy nuwe alias.

Calvin Cordozar Broadus (Snoop se regte naam) het sy identiteit weer herskep en staan nou bekend as Snoopzilla. Hy het dié nuwe naam vandeesweek aangekondig en dit maak deel uit van 7 Days of Funk, ’n nuwe projek wat hy saam met die groove-sanger Dam-Funk aanpak. Dié twee kunstenaars het twee jaar gelede die eerste keer saamgewerk.

“Ons is die babas van die Moederskip,” sê Snoop (41) in ’n verklaring. “My musiek is nog altyd deur funk beïnvloed. Dam-Funk is fantasties. Hy is besig om funk aan die gang te hou en ek het geweet ek moet saam met hom werk.”

Funk is ’n musiekvorm wat soos ’n soort harde bop is. Dit is ook sterk beïnvloed deur gospel sedert die middel-50’s.

BRONNE: rollingstone.com, wikipedia.org, Pharos