Anika Smit se pa was nie in staat om sy eie dogter te vermoor nie, het ’n hof Maandag gehoor.

Maar gemeet aan hoe sy haar haar-, nael- en lipkleur na swart verander het, was sy moontlik by Satanisme betrokke.

Die geregtelike ondersoek na die moord op die 17-jarige Anika het in Pretoria-Noord se landdroshof voortgegaan met haar pa se buurman, Roelof Pottas, in die getuiebank.

Roelof het aan die hof gesê hy’t geglo sy was kort voor haar moord op 10 April 2010 by Satanisme betrokke. Anika se pa het ná haar dood ’n rowwe tyd beleef, het hy gesê.

“Die enigste kere wat ek hom gehoor het ná die moord was wanneer hy oor naweke hartseer musiek gespeel het. Ek het vir my vrou gesê hy is ’n gebroke man.”

Op ’n vraag oor die moontlikheid dat Johan sy eie dogter vermoor het, het hy gesê hy glo nie dit was moontlik nie.

Roelof sê Anika het vir sowat twee jaar by haar ma in die Kaap gaan woon voor sy in 2009 terug by haar pa ingetrek het.

“Ek het haar gevra hoekom sy terug is. Sy’t vir my gesê sy het vir eers genoeg tyd saam met haar ma deurgebring en sou weer by haar pa bly.”

Lees ook: Grootmaak-ma getuig in hof: So het ek Zephany gekry

'Ek het bloed gesien'

Roelof het getuig hy het geglo Anika is by Satanisme betrokke oor die skielike verandering in haar haar- en naelkleur.

“Anika se haarkleur is kort daarna van blond na donkerswart gekleur en haar naels en lippe is ook swart geverf. Ek het vir my vrou gesê dit bekommer my en is ’n aanduiding dat sy by Satanisme betrokke is . . . ek het tot dié besef gekom nadat ek boeke daaroor gelees is, want dis een van die aaklige werklikhede van die lewe en sommige mense word daarby betrek. Ek het ook gelees dis onmoontlik om Satanisme te los.”

Hy het getuig haar hare is voor haar moord weer soos altyd gekleur en dat haar somber bui ook verander het na dié van die gelukkige mens wat hy geken het.

Roelof het aan die hof gesê hy ken Anika se pa, Johan Smit, al 23 jaar en dat hy behalwe vir Johan die eerste mens op die moordtoneel was.

Hy sê hy het op daardie noodlottige dag ’n klop gehoor en toe hy oopmaak, het ’n geskokte Johan voor hom gestaan.

“Ek het hom gevra of hy wou inkom. Ek kon dadelik sien iets is fout. Sy oë was wydgesper en hy’t gesukkel om die woorde uit te kry. Hy’t gesê: ‘Ek dink my kind is vermoor’ en my gevra om saam met hom te gaan.”

Roelof het vir Johan gevra of hy in die huis was, waarop hy “ja” geantwoord het.

“Hy het gesê dit was vreemd dat die sekuriteitshek en die voordeur oop was. Geen honde het hom begroet nie. Hy het ingegaan en gesien die huis is deurmekaar . . . en toe by haar kamer ingegaan en haar daar sien lê en hy wou nie verder ingaan nie. Hy het omgedraai en na my toe gekom.”

Roelof het die toneel beskryf wat hom begroet het.

“Ek is saam met hom na die huis toe. Ons het verby die eetkamer geloop en ek het gesien daar lê ’n omgekeerde stoel en het bloed gewaar.”

Lees ook: ‘Liefdesdriehoek’ eindig tragies

Grafiese beelde

Hy het Anika se kamer binnegegaan en haar naakte liggaam op die vloer met bloedkolle langs haar kop, albei haar hande afgesny en ’n bottel wat tussen haar bene uitsteek, gesien.

Grafiese foto’s van die moordtoneel is in die hof gewys.

Albei ouers, Johan en Anika se ma, Charlotte Eksteen, het op daardie oomblik weg van die skerms gedraai.

Roelof het uitgewys dat die jong meisie se bene anders in die moordtoneel foto’s was as toe hy die eerste keer die kamer binnegegaan het.

Hy het gesê hy het nie Anika se kêrel, Nico Venter, geken nie, maar hom ’n paar keer gesien.

Hy het vertel van ’n voorval ’n paar maande voor haar dood toe hy hulle buite Anika se huis sien praat het.

Volgens Roelof het Anika vir Nico probeer soen, maar dié het haar weggestoot. Hy’t getuig dit het gelyk of hulle gestry het.

Nico se prokureur, Anton van Staden, het gesê sy kliënt het vir hom gesê daar was ’n paar keer wat hy onsteld was oor dinge wat Anika gedoen het en dat hy dalk so opgetree het, en bygevoeg “hy’s nie die soort mens wat net iemand sou soen en sou aanbeweeg as iets hom gepla het nie”.

Die ondersoek duur voort op 17 Mei.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com:

Zephany Nurse se grootmaak-ma het gedink ‘haar mamma wil haar nie hê nie’

Pa kom met desperate plan vorendag om sy identiese tweeling van mekaar te onderskei

Die lelikste en mooiste: Oscar-rokke wat wenkbroue lig

Verbygaande verpleegster red man ná weerlig hom tref

Leonardo DiCaprio se Oscar-droom word uiteindelik waar

Hartseer nuus vir Thys die Bosveldklong