Maar dit het blykbaar niks verander aan hoe Gary en vroulief Almeda Hardwick oor mekaar – en hul ouderdomsverskil van meer as ’n halfeeu – voel nie. Hy was 17 en sy 71 toe hulle ná ’n blitsromanse trou.

Soos Almeda dit stel: “Wanneer jy iemand regtig liefhet, maak dit nie saak wat enigiemand anders dink nie. Ons verhouding raak elke dag sterker. Party mense probeer ons seermaak, maar niks en niemand kan tussen ons kom nie.”

En hy reken: “Almeda is so jonk van gees dat ouderdom ons nog nooit gepla het nie.”

Hulle is allereers sielsgenote, reken dié ongewone paartjie van Sevierville in die Amerikaanse deelstaat Tennessee.

Die Londense aanbieders van die ITV-program This Morning het die Hardwicks dae gelede na ’n ateljee in Nashville laat reis vir ’n onderhoud via satellietverbinding.

Maar dit was eindelik ietwat van ’n spektakel; daar was tegniese probleme en boonop kon die gasvrou later kwalik haar lag beteuel oor ’n geniepsige grappie van haar medeaanbieder.

Gary het agterna in ’n Facebook-videogreep teruggekap oor kritiek op hul verhouding: “Die negatiwiteit pla ons nie. Dit amuseer my dat mense so miserabel is dat hulle pal ander probeer neerskiet. Wat my regtig kwaad maak, is wanneer mense aannames maak oor dinge waarvan hulle niks weet nie,” het Gary (pas 18) laat hoor.

Die jongeling het reeds sy aanvanklike lewensverhaal uitgegee: This is Who I am.

Sosialemediakommentaar oor hul huwelik het gewissel van “Is jy érnstig, bra?! Alles van die beste!” tot “My ma het gekyk en was mal oor julle albei” en “As Brit met respek vir ’n medemens se reg om lief te hê wie hulle ook al wil, vra ek verskoning vir die gespot”.

Daar was trouens steun van oral: “Julle pas beter bymekaar as enige egpaar wat ek al gesien het,” het ene Säjin Køttäppälly hulle byvoorbeeld verseker.

Maar intussen kan jy ook verstaan dat dié liefde baie mense kriewelrig sou maak:

Almeda het Gary by haar seun Robert (45) se begrafnis ontmoet. Gary se tannie (Robert se weduwee) het hom soontoe genooi.

Almeda was platgeslaan en baie alleen. Die ma van vier het reeds in 2013 haar man, Donald, met wie sy 43 jaar getroud was, aan die dood afgestaan ná sy stryd van sewe maande teen komplikasies weens diabetes. Toe verloor sy boonop vir Robert weens ’n epilepsie-aanval.

In die kerk ontmoet

Almeda het deur haar waas van hartseer “dié aantreklike jong man met die lieflike glimag” in die kerkbanke oorkant haar opgemerk. Dit was kompleet soos sonlig wat deur ’n grysheid breek, reken die rooikop.

Aan die einde van die roudiens het hy sy meegevoel kom betuig . . . ’n vlietende oomblik, “maar dit was genoeg”, onthou die lewenslustige Walmart-winkelassistent. En Gary het nou vertel hoe haar “treffende blou oë” hom aangetrek het, en later ook haar persoonlikheid en “volwassenheid”.

Hulle sou mekaar eers weer maande later by Gary se niggie se verjaardagpartytjie ontmoet. Albei was te senuagtig om te eet en hy het skoon oor sy stoel geval. Maar die romanse het van toe af behoorlik vlam gevat. Hulle het ure aaneen gesels en besef hulle het soveel gemeen, soos ’n liefde vir countrymusiek en Italiaanse kos, vertel Gary. Daarna het hulle mekaar omtrent elke aand gesien.

Op ’n kol wou sy reguit weet: “Kyk, ek’s 71 en jy 17. Is ek te oud vir jou?”

“Ouderdom is net ’n syfer,” het hy gegrinnik.

Hul eerste soen op ’n tuinbank in die maanlig het Almeda “weer soos ’n tiener laat voel”.

Twee weke ná hul herontmoeting het hy die groot vraag gevra en nog ses dae later het hulle afgehaak.

Gary reken hul huweliksaand was “wonderlik . . . Dit het my stoutste verwagtinge oortref. Sy’s regtig my droomvrou.”

“Ek het nog nooit so ’n band met iemand ervaar nie,” meen sy.

En haar bloedjong wederhelf is blykbaar nie bekommerd oor ’n toekoms sonder spruite van hul eie nie. Tot nou wou hy nog nooit kinders hê nie.

Hulle woon nou in Almeda se vyfslaapkamerhuis saam met haar dogter, DeAnna (40), en twee kleinkinders. Op 21 is haar kleinseun ouer as sy ouma se nuwe man.

Maar die meeste van hul familie en vriende aanvaar dié rare verhouding, onder wie Gary se ma, Tammy (48), en ouma Carolyn (ook 71 soos Almeda).

Almeda se oudste seun skop wel nog vas, maar sy reken hy sal hom ook eindelik by haar keuse berus.

Intussen twyfel Gary oënskynlik nie dat hy reg gekies het nie – vir die lang duur; hy het haar en sy naam oor sy bors laat tatoeëer. “Die Here het my gebede verhoor daardie dag toe sy my lewe binnegestap het,” reken hy.

Bronne: Facebook, metro.co.uk, mamamia.co.au, express.co.uk, mirror.co.uk, entertainmentdaily.co.uk