Hygend hert! Wat gaan op onse planeet aan?

[caption id="attachment_122103" align="alignnone" width="600"]fgjf ’n Haredos waarmee jy ’n lekker braaivleisvuur aan die gang sal kan kry; dun beentjies met ’n gespierde bolyf of die feit dat Brooke Logan al 13 keer getroud was gaan alles ons verstand te bowe.[/caption]

’n Vuurvretermagnaat met ’n haredos waarmee jy ’n lekker braaivleisvuur aan die gang sal kan kry, het van buiteperd tot voorloperkandidaat in die Amerikaanse presidentsverkiesing gevorder; Kim Kardashian is ’n paar strategies geplaaste strepies daarvan weg om poedelnaakte selfies die kuberruim in te stuur en moenie vergeet van die plaaslike politieke babelaas waarmee Suid-Afrikaners deesdae daagliks wakker word nie.

Want as daar nou een man is wat dag ná dag sy lewe soos daai bekende tekkie-leuse aanpak, is dit onse pres. Jacob Zuma. Vir dié president is waaragtig niks onmoontlik nie.

’n Saliger siel sou al lankal die politieke lepel in die dak gesteek het, maar selfs ná die hoogste hof in die land beslis het ons opperleier het die Grondwet oortree toe hy die openbare beskermer se bevindings oor verbeterings aan sy privaat Nkandla-woning verontagsaam het, klou ons kanniedood-president stywer as ooit aan sy septer.

Maar voor gewone sterflinge toelaat dat magteloosheid en mismoedigheid oor dié gebeure ons algehele welsyn oordonder, moet ’n mens dalk in ag neem dat daar ook ander dinge in die lewe is wat glad nie sin maak nie.

Hier volg ’n lukrake lys van die onverstaanbare:

  1. Hoekom sien ons nooit hoe die liewe Evelina en Thandeka wat al jare agter die kospotte in 7de Laan swoeg, lyk nie? Ons hoor al van Evelina en haar beroemde niertjiegereg sedert dié gewilde sepie se begindae – toe sy nog vir die matriarg Madel Terreblanche en haar wispelturige gespuis gekook het – maar kykers het die stomme Evelina nog nooit met ’n oog aanskou nie. Dieselfde geld vir Thandeka, die Oppiekoffie-kok, wat die kelners blykbaar gedurig met haar skerp tong opdraande gee.
  2. En so van sepies gepraat . . . Is dit nie bisar dat Isidingo se Horizon Deep (’n afgesonderde myndorpie) hul eie TV-kanaal het nie? Watter werklike myndorp spog met hul eie televisiekanaal soos ON!TV? Secunda? Thabazimbi? Helaas nie. Boonop is dié kanaal – waaroor die magsbeheptes en twisgieriges gedurig in die SABC3-sepie stry – blykbaar so gesaghebbend dat plaaslike joernaliste na oorloggeteisterde gebiede in Afrika gestuur word om daar verslag te doen. Ha-lie-ha!
  3. Kom ons sluit nou maar die bisarre trilogie van die onverstaanbare in sepies af met ene Brooke Logan van die Amerikaanse The Bold and the Beautiful. Dié blonde femme fatale was al ’n verstommende 13 keer getroud. (Ja, liewe leser, 13 keer; dis nie ’n tikfout nie.) ’n Mens moet darem bysê, sy het wel sewe uit die 13 keer met dieselfde man, Ridge Forrester van die invloedryke modefamilie, afgehaak. Nogtans is dit darem ’n bietjie dik vir ’n daalder om 13 keer in een sepie se leeftyd te trou; waar bêre die produksiepan al daardie trourokke?
  4. Sommige vroue sweef mos douvoordag ten volle gegrimeer met nie ’n haartjie uit plek nie, die gim binne. In watter parallelle werklikheid maak dit sin om jouself mooi te maak vóór jy in die gim gaan sweet? En wat beteken dit, vriende? Staan dié vroue vieruur soggens op om hare te was en droog te blaas en foutlose grimering aan te wend voor hulle gaan oefen?
  5. En dan, natuurlik: Spiertiere met ’n oor-ontwikkelde bolyf en spaghetti-bene. ’n Mens kan net hoop die oneweredig verspreide spierbalans het nie lang termyn ewolusionêre gevolge op Suid-Afrikaanse mans nie.
  6. Superluukse motors waarvan jy nie self die bagasiebak oop en toe hoef te maak nie. Regtig? Is die oop- en toemaak van ’n bagasiebak so uitmergelend dat motorvervaardigers eenvoudig ’n makliker manier vir die rykes moes bedink om hul lewe in vrede te lei in die wete dat hulle nooit weer hul hand aan ’n bagasiebak sou moes waag nie? Kyk, ek het niemand nog ooit hoor sê nie: “Weet jy, my lewe was heel oukei, maar toe ek eers my kattebak met die hand moes oopmaak, raak als ewe skielik net te veel.”
  7. Wat op dees aarde het van die gat in die osoonlaag geword? Het dié gaping toegegroei? Vir diegene wat dalk te jonk is om hiervan kennis te neem: In die 1980’s en ’90’s was die osoonlaag se welsyn ’n brandpunt so oorheersend soos die woede oor renosterstropery vandag. Jy moes basies onder jou bed inkruip as jy reukweerder met ’n spuitkannetjie wou gebruik, want (behoede ons) as die chemikalieë die osoonlaag sou bereik en dit verder verdun en verskeur, kon alle aardbewoners oombliklik doodskroei.
  8. Hoe is dit moontlik dat die bevolking van die fiktiewe Cabot’s Cove nie uitgeroei is ná die eerste vyf seisoene van die TV-reeks Murder She Wrote nie? Die vasberade misdaadskrywer Jessica Fletcher het week ná week ’n moord in dié piepklein nedersetting opgelos, maar hoeveel mense kon nou eintlik op dié kusdorpie woon? ’n Mens wonder of hulle nie eindelik die reeks moes staak omdat sy later letterlik al oorlewende in Cabot’s Cove was nie.
  9. Aan dié onverstaanbare verskynsel het baie mense ’n broertjie dood: Byderwetse jong mense in Kaapse uithangplekke wat hul ontwerpershonde aan halsbande saamsleep na watergate. Hoekom sou enige hond tussen ’n klomp mense in ’n kroeg ingebondel wou wees? En wat drink die arme drommels? Epol met eisj?
  10. Die gedeelte in Empireweg in Johannesburg waar ’n mens letterlik op geen plek in die pad regs kan draai nie. Het dit die siviele ingenieurs met die byvoeging van die busbane net heeltemal ontgaan dat dit soms nodig is om regs te draai wanneer jou bestemming aan die anderkant van die snelweg is? In ’n stadium moet ’n mens maar net jou oë toeknyp, regs draai en hoop ’n bus tref jou nie, want ’n mens wil nie aldag Hillbrow toe nie . . .

– Almari Wessels

Ook op Huisgenoot:

Kan jy die versteekte prentjie binne dié rooi kol sien?

Hidroliese pers vernietig enigiets – van Lego tot selfone en gholfballe

Spring vinnig! Tasmanië is dringend opsoek na ’n ‘Chief Wombat Cuddler’!

Kenners gee raad: Is dit ooit ’n goeie idee om met jou eks op te maak?