Die brandweer het die afgelope drie jaar al 79 voorvalle hanteer waarin mense in handboeie vasgesit het.

Dit het die brandweer genoop om mense te maan om “mooi te dink” voor hulle die noodnommer bel en “altyd die sleutels byderhand te hou. Ek weet nie of dit die Fifty Shades-uitwerking is nie, maar dit blyk daar is nou meer voorvalle waarby items soos handboeie betrokke is,” het Dave Brown gesê. “Ek is seker die meeste mense sal 50 skakerings van rooi wees teen die tyd dat ons spanne aankom om hulle te bevry.”

Die brandweer het die afgelope drie jaar meer as 1 300 voorvalle hanteer waarin mense vasgesit het of vasgekeer was, gewoonlik in huishoudelike toestelle, het hulle gesê.

Die syfer het van 416 voorvalle in 2011-12 tot 453 in 2012-13 toegeneem.

Daar was ook nege gevalle waarin ’n ring aan ’n man se penis vasgesit het. ’n Ander man se penis het in ’n stofsuier vasgesit en ’n ander een s’n in ’n broodrooster.

Daar was 18 gevalle van kinders wie se kop in ’n toiletsitplek of potjie vasgesit het. “Van die voorvalle waarna ons brandweermanne ontbied is, kon met ’n bietjie gesonde verstand voorkom gewees het,” het Dave gesê. – Sapa