Deon Kondos, die jong maatskaplike werker wat deur die sanger Zirk Bergh die naweek doodgeskiet is, was ’n maatskaplike werker in murg en been wat altyd die tweede myl saamgeloop het.

So het Endriëtte Barnard, ’n prokureur wat nou saam met Deon (23) gewerk het, gister aan Huisgenoot gesê. “Hy het waarlik meer gedoen as wat verwag word van enige maatskaplike werker,” het sy in reaksie op die voorval gesê. Die musikant het Saterdagoggend omstreeks agtuur losgebrand op sy eksvrou, Nicolette du Rand, en haar voor hul agtjarige dogter geskiet. Sy is steeds in ’n bedenklike toestand in die Garden City-kliniek in Johannesburg waar sy om haar lewe veg. Zirk (58), wat destyds die kitaarspeler vir wyle Worsie Visser was, het ook Nicolette se man, dr. Chrarl du Rand, voor hul ander twee dogters in die Du Rands se motor geskiet. Charl (34) is ’n paar uur later oorlede. Deon, wat voor die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie in Potchefstroom geskiet is waarheen Nicolette (26) hul dogter gebring het sodat Zirk haar kon sien, is ook daar geskiet. Hy het op die toneel gesterf. Daarna het Zirk homself geskiet.

'Deon het Zirk regtig te alle tye te woord gestaan wanneer hy dit verlang het. Hy het selfs oor ’n langnaweek, toe sy verlof al begin het, ingestem om die kind vir ’n kontakbesoek na Zirk te bring. '

“Deon het Zirk regtig te alle tye te woord gestaan wanneer hy dit verlang het. Hy het selfs oor ’n langnaweek, toe sy verlof al begin het, ingestem om die kind vir ’n kontakbesoek na Zirk te bring. Deon was werklik ’n maatskaplike werker in murg en been. Hy het ’n passie vir die beroep gehad soos min ander.”

Endriëtte en Deon was deel van die span wat die hof vir die agtjarige dogter aangestel het. “Ons het saam gewerk en saam met hulle deur ’n bemiddelingsproses, kinderhofsaak en gesinskonferensie gegaan.”

Zirk het in ’n stadium nie kontak met sy dogter gehad nie, maar ná die proses is ’n ooreenkoms aangegaan waartoe Zirk self ingestem het, berig die dagblad Beeld. “Hy het sy dogter gereeld gesien en telefonies kontak met haar gehad. Nicolette het haar volle samewerking gegee en meer gedoen as wat baie biologiese ma’s doen om kontak te herstel,” vertel Endriëtte.

Danel Blaauw