article-0-19F5EA6B00000578-947_306x423article-0-19F5EEBE00000578-129_306x423

Dis wat die 24-jarige Audrey Mayo, van die dorpie LaFayette in die Amerikaanse deelstaat Georgia, oorgekom het.

Nadat sy en Matthew Webb (23) mekaar twee maande gelede ontmoet het, het hulle gou vriende geword. Een aand, einde verlede maand, het die twee op die dak van haar ma se huis geklim om die sonsondergang te bewonder.

Dit is toe dat hy ’n trop takbokke in die veld oorkant die huis gewaar, vertel hy. Hy is dadelik af met die leer om sy SKF-jaggeweer te kry, en toe die veld in om ’n bok plat te trek. Audrey is agterna, maar dit het Matthew nie geweet nie.

Hy vertel hy het ’n geritsel in die bosse gehoor en ’n effense beweging gesien. Toe skiet hy. Hy het wel vroeër die dag ‘n “bietjie dwelms gebruik,” het hy gebieg.

Toe Audrey dae later in die hospitaal wakker word, was Matthew langs haar bed om sy ewige liefde aan haar te verklaar. In sy hand het hy ’n stukkie papier gehad met aantekeninge daarop ingeval hy sy woorde vergeet.

Nou het Matthew in haar ouerhuis ingetrek om te help met haar versorging. Sy is nog bedlêend, met die swaard oor haar kop dat sy moontlik haar been sal verloor as die wond nie goed reageer op die behandeling nie.

Toe sy gevra is wat sy van die ongeluk onthou, was haar antwoord: “Ek het ’n geweerskoot gehoor. Toe voel ek dit. En toe val ek.”

Maar die ongeluk pla haar nie meer nie, “want dit was mos maar net ’n ongeluk, en ek is baie lief vir hom”.

Audrey is as’t ware regtig been af oor die nuwe liefde in haar lewe . . .

Deur Jaco Hough-Coetzee

Bronne: The Time Free Press; Daily Mail