[caption id="attachment_166277" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

“André was saggeaard en liefdevol. My hart is gebreek,” sê sy ma, Nicolene Makkink, snikkend oor die foon.

André het verlede Woensdag verdwyn nadat sy ma Middelburg toe moes gaan.

Hy was tuis saam met sy ouma.

Nicolene het Maandag ’n oproep van die polisie gekry om te sê hulle het ’n lyk op ’n grondpad tussen Kriel en Bethal gevind.

Nicolene het haar kind gaan uitken. Hy het net sy kort slaapbroek aangehad. Net sy tabletrekenaar word vermis.

“Ons weet nog nie wat die oorsaak van sy dood was nie. Ek ry môre (Vrydag) Bethal toe om te hoor of hulle die nadoodse ondersoek afgehandel het.

Ek het ook nog nie begrafnisreëlings getref nie,” sê sy.

Volgens Nicolene was André agt jaar lank aan heroïen verslaaf. Hy was ongeveer ’n jaar lank in ’n rehabilitasiesentrum in Nigel en sedert verlede jaar skoon.

“Ek het hom amper elke dag getoets. Ons het so gebid vir hom en hy was baie positief,” sê sy huilend.

“André wou sy lewe omkeer. Hy was dankbaar oor die tweede kans wat hy gekry het,” sê sy.

“Hy het my heeltyd vertel hoe hy planne maak om ingenieurswese te gaan studeer.”

Nicolene wil net antwoorde hê.

“Ek is nie kwaad nie. Net baie hartseer. Ek wil net weet wat het daardie dag gebeur.”

André word oorleef deur sy ma, Nicolene, sy pa, ook André, sy ouma en drie jonger susters.