“Ek het in sy oë gekyk nadat hy die vuurwapen op my gerig het. Hy het na my gekyk en my toe geskiet.”

Stephanie Meyer (22) is geskiet toe sy en ’n vriendin ’n man te hulp gesnel het wat tydens ’n motorkaping in die gesig geskiet is.

Die kelnerin het aan News24 vertel sy het haar skof afgerond met ’n drankie saam met ’n kollega, Tahne Bush. Toe hulle loop, het hulle ’n lawaai gehoor en ’n man in die pad daar naby sien lê. Hy was saam met hulle in die kroeg.

Sy sê Tahne het nader gehardloop om die man te help terwyl sy haar motor gaan haal het.

“Hy is in die gesig geskiet. Die koeël het deur sy wang gegaan en naby sy oor uitgekom. Sy het na hom omgesien en ek het in die motor gespring en na haar gery. Terwyl die kapers die motor gevat het, het hulle weggetrek en my afgesny,” sê Stephanie.

“’n Ou het aan die passasierskant uitgespring en hy het na my ruit gestap en op my geskiet. Ek het oogkontak gemaak met die ou toe hy my skiet. Die koeël het my arm gebreek.

“Terwyl ek my arm gelig het om van rat te verander, het ek afgekyk en die bloed soos water teen my vingers sien afstroom en ek kon nie die motor in rat kry nie.

“Ek het by die deur uitgeval en hy het nog skote op my geskiet. Ek het toe straatop gehardloop en dit is toe dat die ambulans gekom het,” sê sy.

Die koeël het deur haar arm gegaan en in haar onderklere vasgesteek. Dit is teruggekry en aan forensiese ondersoekers oorhandig.

Stephanie en die gewonde man is per ambulans na ’n hospitaal in Durban gebring.

“As my vriendin nie gehoor het wat gebeur het en daarheen gehardloop het nie, het ons dalk nie so vinnig vir die ou mediese aandag gekry nie,” het sy gesê.

Die man is in ’n ernstige maar stabiele toestand.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

Lyk van vermiste eiendomsagent van Krugersdorp moontlik gevind

Prins Oscar lyk al te fraai in wit getooi

Indië se grootste baba laat kreun die skaal op byna 7 kg!

Jy sal nie glo wat dié man gedoen het om sy 21ste wêreldrekord op te stel nie!