Deur Jaco Hough-Coetzee

Die gryskopman leun vorentoe in sy plastiekstoel, sy lyf en stem die ene dringendheid. “Dink jy dit is sommer net als opgemaak?” wil hy weet. Hy, wat al 67 somers agter die rug het en nege jaar ’n priester in die Ou Apostoliese Kerk was. Sal hy oor so iets lieg?

Hy wat Kobus Maritz is, gaan binnekort die fabelagtige Krugermiljoene vind, daar waar dit in ’n grot in Mpumalanga begrawe is.

[caption id="attachment_58876" align="aligncenter" width="600"]Foto: Papi Moroko Foto: Papi Moroko[/caption]

Maar hy is g’n fortuinsoeker nie, verseker hy jou. Met die ou Boererepubliek se skatte wil hy met sy Kombi deur die land toer om haweloses te help en jongmense terug in die kerk te kry; daarom het hy onlangs sy huurhuis en besittings op Evander, naby Secunda, laat staan vir ’n eenvoudige tuinwoonstel op die dorp.

Maar mense soek al meer as ’n eeu sonder welslae na die goud wat pres. Paul Kruger en sy amptenare volgens oorlewing in die destydse Oos-Transvaal versteek het terwyl hulle voor die naderende Kakies gevlug het. Wat weet hy wat die ander nie weet nie?

Kobus weifel nie vir ’n oomblik met sy antwoord nie. God het hom in ’n visioen gewys presies waar die plek is. Maar nee, hy weet nie hoekom hy die uitverkorene is nie. “Miskien is dit omdat Hy my hart ken en Hy weet ek sal mooi daarmee werk. Nou wys Hy my hoe ek ander kan help”.

Hy het al vier keer dieselfde droom gehad. “Die eerste keer was daar in 1979 se tyd en die laaste nou Februarie.”

In die droom staan hy op ’n stasie iewers in die Laeveld. Hy weet presies watter stasie dit is, maar hy mag nie nou te veel uitlap nie, keer hy.

“Dan droom ek ek begin al langs die treinspoor stap, berge se kant toe. Vir sewe myl tot iets my stop. Skielik word my liggaam deur die rotswande geneem tot binne ’n massiewe grot waar drie ossewaens staan. Ek klim op een van die waens en maak ’n wakis oop. Dis propvol goue muntstukke. Die Krugermiljoene!”

Hy tel hy die muntstukke op en dit stroom soos ’n goue waterval deur sy hande . . .

Dit kom al van kleintyd af, hierdie dromery van hom. En al sy drome het waar geword, verseker Kobus ons.

Hy was skaars 12 toe hy droom van ’n tannie in die kerk wat binnekort gaan sterf. Hy het sy ouers vertel, hulle het die priester vertel en dié het die gesin gaan waarsku om hul naweekplanne na Durban af te gelas “want daar is gevaar op die pad”.

Kobus skud sy kop. “Maar hulle wou nie luister nie. Daai Sondag het ’n haai haar doodgebyt.”

Of die keer toe hy droom van die dood van drie seuntjies in sy skool, en net twee maande later is hulle in ’n fratsongeluk in hul pa se bakkie vergas.

Dit is swaar om vooraf van al dié goed te weet, sê Kobus. Sy oë raak hartseer en hy steek ’n sigaret aan. Sy oom het hom leer rook toe hy ses jaar oud was. Hy druk die pakkie Honor terug in sy hempsak en kug ’n paar keer. Sy bors is deesdae nie meer so lekker nie, verduidelik hy. Dis al Sasol se gasse hier op Evander, glo dié afgetrede takelaar wat 23 jaar op die einste Sasol-aanleg gewerk het.

Dis hoeka sy werk by die aanleg wat hom leer beplan het. “Voor ons na die Krugermiljoene gaan soek, moet alles deeglik uitgewerk word. Daar is nie plek vir foute maak nie.”

Mense wat wil saamgaan, kan hom nader, maar hy gaan hulle eers goed deurkyk. “Hul hart moet op die regte plek wees. Daar is nie plek vir kansvatters nie.”

Hy wil vier mense saamvat, “en een vroumens wat die kos en die eerstehulp sal hanteer”. Hulle sal by die stasie bymekaarkom en dan die tog van sewe myl (net oor die 11 km) tot by die berg aanpak. Daar sal hulle met ’n sterk metaalverklikker begin soek. “En wanneer daai ding afgaan, dan weet ons presies waar ons moet grawe.”

Hulle sal die goud gelykop tussen hulle ses verdeel, verduidelik Kobus. Hy het iewers gelees die regering moet ook hul deel kry; daarom het hy gaan kers opsteek by ’n prokureur hier op die dorp. Maar dié het gesê hy is te jonk, hy weet nie van sulke dinge nie.

Hy besef die hele operasie gaan baie geld kos. Hulle sal dus elkeen eers R50 000 in ’n rekening moet inbetaal wat deur ’n prokureur behartig sal word. Kobus se begroting vir die nodige toerusting en voorraad vir sy skattejag is op ’n vel papier uitgewerk: vierwielmotorfietse, tente, kos, ’n kragopwekker.

Hy sal ’n laaigraaf ook moet kry, besef hy skielik en beduie na sy kop: “Daar is nog ’n paar goeters wat ek hier in my gedagtes mooi moet uitwerk.”

Hy sal met die polisie reël vir beskerming wanneer hulle die goud uitbring, en ’n helikopter moet gereed staan as iemand daar in die berg beseer word.

Ja, die mense in die dorp lag vir hom wanneer hy hulle van sy planne vertel. Maar hy gee nie om nie, “want wie laaste lag, lag mos die lekkerste”.

En die mense kan maar dink dis ’n slenter as hulle wil. “Die Here hoax nie; dié ding is for real.”

  • Bel Kobus by 082-660-3626

Oom Paul se goud

Die storie van die Kruger-miljoene het sy ontstaan te danke aan die vermenging van feite, fiksie en oorlewerings, verduidelik prof. Fransjohan Pretorius, verbonde aan die departement historiese en erfenisstudies van die Universiteit van Pretoria.

Net voor Britse soldate Pretoria in Junie 1900 binneval en oorneem, het pres. Paul Kruger opdrag gegee dat al die geld en goud in besit van die destydse Boererepubliek, die ZAR, van die banke en munt onttrek moet word. Dit is op ’n treinwa gelaai en na die destydse Oos-Transvaal geneem sodat dit nie in Britse hande kan beland nie. Die waarde hiervan was tussen 500 000 en 750 000 pond, sê Fransjohan.

Toe die trein vir ’n paar weke op Machadodorp stop, het skuldeisers wat oorlogsvoorraad aan die regering voorsien het, op die trein toegesak. Betalings is gemaak waarna die trein na Barberton vertrek en die proses herhaal is.

Britse soldate het die spoor versper, wat die Boereleiers geen keuse gelaat het as om die geld oor te laai in ossewaens nie. Hierna het hulle vanuit die veld regeer en die res van die geld gebruik om die oorlog te finansier. Teen April 1901 het genl. Louis Botha pres. Kruger per boodskap laat weet al die geld is op.

Maar almal het nie dit geglo nie. Berigte het in die Cape Times verskyn wat beweer dat die geld en goud na Europa geneem is. Boere van die Laeveld het gerugte versprei dat hulle gesien het hoe die skat op ossewaens gelaai en die veld ingeneem is, en dus iewers begrawe moet wees. Die Britse koloniale sekretaris, Joseph Chamberlain, het ook die Boereleiers gekonfronteer om die skat aan Brittanje te oorhandig. Die leiers, onder leiding van genl. Louis Botha, het ontken dat daar enige geld oor is.

Maar die storie van die Kruger-miljoene het nooit gaan lê nie . . .