Een van die passasiers aan boord van Mandag se vlug was ’n vrou, na bewering in haar 40’s, wat net voor die vliegtuig sou opstyg, ’n chaos aan boord veroorsaak het.

“Ek is nie in die bui om nou te vlieg nie,” het sy aangekondig en daarop aangedring om onmiddellik van die vliegtuig af te klim. Meer as 500 passasiers moes noodgedwonge na die vertreksaal terugkeer. Alle bagasie is van die vliegtuig gehaal en weer aan sekuriteitskandering onderwerp. Maar dit was die rede vir die vrou se skielike verandering van “vlugplan” wat haar medepassasiers behoorlik laat oorkook het van woede. Want sien, dit was nie vanweë vlugvrees of dreigende storms nie, maar ’n dringende en onmiddellike behoefte om van haar man te skei. Nie eens onderhandelings wat sowat ’n uur aan boord geduur het, kon haar van plan laat verander nie.

Wat die hele debakel nog verder kompliseer, is dat dit onseker is of die vrou se man ook op die vlug was.

Dit wil voorkom asof die lugredery ook maar skrikkerig is om so ’n vasbeslote vrou ’n boete op te lê vir die vertraging van die vlug.

Vyf vreemde redes waarom vlugte vertraag is.

1. Tydens ’n United Airlines-vlug van Rome na Chicago moes die vliegtuig noodgedwonge in Belfast, Ierland, land nadat ’n Amerikaanse passasier ’n bemanningslid in die gange gejaag het. Die rede? Sy sou glo geweier het om kaas en beskuitjies aan hom voor te sit.

2. Smulpape blyk gereeld moles te veroorsaak. Die vlieënier, kapt. Smiriti Trehan, het ’n uur lank geweier om te vlieg nadat haar roete aangepas is. Die vlug sou nie in Jodhpur geland het nie. Sy was woedend omdat sy reeds gereël het dat die stad se bekende pikante uie-happies (kachoris) by die vliegtuig afgelewer sou word terwyl passasiers aan boord sou gaan.

3. Wie onthou nog die hooggeplaaste Heather Cho van Korean Air wat die vlug laat terugkeer het na die vertreksaal? Sy het ernstig beswaar daarteen aangeteken dat sy neute in ’n sakkie in plaas van op ’n bekertjie bedien is. Dié affêre staan deesdae bekend as “Nutgate”. Sy het ’n haar loontjie gekry in die vorm van een jaar se tronkstraf en ’n openbare verskoning aan die wêreld daarbuite.

4. Dit word bloot net ’n gerug afgemaak, maar wat as dit waar sou wees? Blykbaar het Amerika se oudpres. Bill Clinton verskeie ander vlugte vertraag terwyl ’n haarkapster sy haredos aan boord van Air Force One moes knip.

5. ’n Besope Gerard Depardieu, die bekende Franse akteur, het sommer sy plassie op die vliegtuig se mat gemaak terwyl hulle gereed gemaak het om van Dublin na Parys op te styg. Die vliegtuig moes terugkeer sodat dit skoongemaak kon word.

Bronne: aol.com, newscom.au, rt.com, telegraph.co.uk