Sydney – ’n Man van Australië het in die hof verskyn nadat huurmoordenaars wat hy aangestel het om sy lewensmaat te vermoor haar laat gaan het omdat hulle nie vroue doodmaak nie, is Dinsdag berig.

Balenga Kalala, ’n boorling van die Kongo, het gevra dat sy lewensmaat van 10 jaar en die ma van sy drie kinders vermoor word terwyl sy ’n begrafnis in Burundi bywoon, het die staatsaanklaer volgens die Sydney Morning Herald aan die hooggeregshof gesê. Die aanklaer het gesê Kalala het skuld erken ná die onverwagte wending en verwys na ’n telefoongesprek waarin hy haar om vergifnis smeek en sê hy het gedink sy het ’n affair. In Januarie het Noela Rukundo in Burundi tuisgegaan vir haar stiefma se begrafnis toe sy oor die foon met Kalala praat. Hy het toe voorgestel sy verlaat die hotel om ’n bietjie lug te kry, het Douglas Trapnell QC aan die hof gesê.

Toe sy uitstap, het ’n man met ’n vuurwapen haar ingewag. Hy het haar in ’n motor geboender en na ’n ander plek geneem. Daar het ’n medepligtige haar vertel hulle is aangesê om haar te vermoor, maar hulle is nie bereid om ’n vrou dood te maak nie. Volgens die aanklaer het hulle haar ’n selfoon gegee, asook opnames van hul foongesprekke met Kalala en kwitansies vir die R101 500 wat hulle na bewering as betaling ontvang het. Noela het in Februarie teruggekeer na Melbourne, waar Kalala in 2004 as ’n vlugteling aangekom het, en hom gekonfronteer.

"Hy het aansienlike geldelike bydraes ontvang"

Kalala het vir die gemeenskap gesê sy vrou is in ’n ongeluk dood en het aansienlike geldelike bydraes ontvang om sy en Noela se drie kinders (vyf, 10 en 11) en nog vyf kinders uit Noela se vorige verhoudings te help versorg, lui die berig.

Hy het skuld erken en sal tot sy vonnisoplegging in aanhouding bly, lui die berig.

Bron: News24