Tina Coetzee sal op 4 Mei hoor of sy na haar man en kinders in Kenilworth kan terugkeer. Tina, ook bekend as Petina, het glo ’n huurmoordenaar betaal om haar man, Austin Coetzee, te vermoor. Austin en Tina wil nou versoen.

William Booth, haar regsverteenwoordiger, het tydens hofverrigtinge gesê dit is in haar minderjarige kinders se belang dat Tina na die gesinshuis terugkeer. “Tina se 16-jarige seun moet na die 4-jarige kind omsien en hy (die 16-jarige) is in gr.11 en besig met belangrike studie.” Sy woon volgens haar huidige borgtogvoorwaardes by familie in die noordelike voorstede van Kaapstad. Die staat staan haar aansoek teen dat die borgtogvoorwaardes aangepas word. Die staat voer aan hul saak kan benadeel word as sy en Austin kontak het.

Booth het egter in die hof gesê Austin het reeds aangedui hy wil nie ’n staatsgetuie wees nie.

Uitspraak oor Tina se aansoek is voorbehou en sal op 4 Mei gelewer word.