’n Sielkundige span gaan leerlinge en onderwysers by die Hoërskool Clapham in Pretoria bystaan nadat ’n onderwyser (60) Dinsdagoggend (2 Mei) by die skool ineengestort het en dood is.

Die Gautengse onderwysdepartement het dié aankondiging gemaak kort nadat Panyaza Lesufi, LUR, die skool vanoggend besoek het.
“Die departement van onderwys is baie hartseer oor die nuus van ’n onderwyser se afsterwe vroeër vandag,” het Oupa Bodibe, hoof van kommunikasie van die department, gesê. Hy het die sterfte beskryf as ’n verlies vir sowel die skool as die departement.

“Ons wil ons meegevoel teenoor die skool en die familie van die slagoffer betoon.”

Die department sal verder ondersoek doen na die dood van die onderwyser, wat tydens die voorval toesig gehou het oor leerders wat eksamen skryf. Sy het glo na die badkamer gegaan omdat sy onwel gevoel het. Daar het sy ineengestort en gesterf.