Moenie paniekbevange raak nie. Die OVK se Kate Bapela, ’n woordvoerder, het aan Huisgenoot verduidelik wie hierop moet ag slaan en watter stappe jy kan doen.

Dis SMS is aan sowat 5,3-miljoen geregistreerde kiesers gestuur. Die OVK se rekords wys egter tot 6,92-miljoen mense se adresse is nie op hul stelsel bevestig nie.

Al het jy nie ’n SMS gekry nie, is dit slim om aan te meld op een van die OVK se amptelike kanale om te bevestig of hulle wel jou woonadres het of nie.

Besoek dié webtuiste en sleutel jou ID-nommer in.

Jy kan ook die amptelike verkiesings-app aflaai deur op jou selfoon se appwinkel te soek vir “IEC South Africa” of ’n SMS met jou ID-nommer stuur aan 32810. Dit kos R1,00 per SMS.

Lees ook: Dis wanneer ons vanjaar gaan stem

As jy aanmeld en ’n boodskap sien wat lees: “The address for holder of XXX may be incomplete. Kindly visit your local IEC office” beteken dit die OVK is nie seker oor jou adres nie. Dit geld selfs al sê die skerm jy is wel geregistreer.

Jy het gelukkig nog tyd om jou adres te bevestig, sê Kate. Klik hier en kies jou provinsie om te kyk waar jou naaste plaaslike kantoor is.

Sy raai aan dat kiesers dit vroeër eerder as later doen.

Sy verduidelik die regering sal kort voor die amptelike munisipale verkiesings, wat op Woensdag 3 Augustus 2016 plaasvind, bekendmaak dat die kiesersrol eersdaags sluit. Hou hierdie blad dop om te sien wanneer die rol sluit.

Lees ook: Dis hoe die nuwe WhatsApp-veranderinge jou gaan raak

Sy sê veral kiesers wie in 2016 vir die eerste keer stem of sedert die vorige verkiesing verhuis het, moet daarvan werk maak om hul adresse te laat bevestig.

Tog is daar heelwat kiesers wat al etlike jare by dieselfde adres woon wat ook hul adresse moet laat bevestig. Onthou om jou ID-boek saam te neem.

Die OVK het ná klagtes op Facebook om verskoning gevra vir enige ongerief wat dié proses kan veroorsaak en gesê die proses is ongelukkig nodig omdat hulle nie geregistreerde kiesers op stemdag wil wegwys bloot omdat dié kiesers se adresse ontbreek nie.

Om adresse te hê wat op datum is, is volgens wetgewing verpligtend.

“Die OVK glo sterk daarin dat om geregistreerde kiesers wie se adresse ontbreek weg te wys sal inbreuk maak op hul grondwetlike reg om te stem. Ons wag intussen vir leiding van die Konstitisionele hof, maar ons wil nie eenvoudig sit en wag vir dié uitkoms nie. Om behoorlike adresinligting vir kiesers te hê, is kragtens wet nodig en bevorder die deeglikheid en betroubaarheid van die kiesersrol.”

As jy nog vrae oor die munisipale verkiesing het lees ons vorige berig hieroor.

– Mieke Vlok

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Dit laat hulle glimlag’: Barmhartige jongmense was gratis haweloses se klere

Toyota se juweeltjie gaan die Milaan-ontwerpweek verower

‘Dis waarom ek bedank het,’ onthul voormalige bok-afrigter Heyneke Meyer

Wie is die ellendige Murphy wat altyd alles laat skeefloop?

Kyk: Dié vrou maak die spoggerigste kapsels vir perde