Om ’n Ysterman-driekamp te voltooi is op sigself ’n ongelooflike kordaatstuk: swem ’n moordende 3,8 km in die see, ry 180,2 km op ’n padfiets en hardloop 42,2 km.

[caption id="attachment_119618" align="alignnone" width="600"]Keri is in 2007 met Schurmann se siekte gediagnoseer. FOTO: Verskaf Keri is in 2007 met Schurmann se siekte gediagnoseer. FOTO: Verskaf[/caption]

Maar om die wêreldbekende uitdaging te wen enkele jare nadat die dokters gesê het jy sal nooit weer kan hardloop nie, is ’n perd van ’n ander kleur.

Keri Delport (31) van Muizenberg, Kaapstad, het aan die Ysterman-wêreldkampioenskap, die Halwe Ysterman-uitdagings in Oos-Londen en Durban, sowel as die Volle Ysterman-kampioenskap in Port Elizabeth deelgeneem.

Dit is moeilik om te glo dokters het in 2008 vir Keri, ’n toegewyde atleet, gesê sy sou nooit weer kon hardloop nie.

Lees ook: Gelukkige einde vir ma se nagmerrie

Scheuermann se siekte is die vorige jaar by haar gediagnoseer nadat sy kwaai rugpyn gekry het en genoodsaak was om met krukke te loop.

“Die siekte behels basies die verkrummeling van my rug, oftewel my rugwerwels,” verduidelik sy. “As ek na ’n X-straalfoto van my rug kyk, lyk dit basies asof iemand my rugwerwels met ’n hamer en ’n beitel bygekom het; dit lyk gebreek. Die skywe is die sponsagtige kussings tussen die werwels wat jou rug steun en wat onder meer senuwees bevat. Myne is besig om te disintegreer.”

Sy is in 2008 geopereer ten einde haar lende-ruggraat aanmekaar te heg en om ’n prostetiese skyf net bokant die hegting te plaas.

Hoewel dit gehelp het om haar pyn te verlig, het die dokters slegte nuus gehad: Hulle het gemeen sy sou nooit weer kon hardloop nie.

“Die ophoping van spanning tot daardie oomblik was moeilik. Ek het die nuus gekry terwyl ek besig was om ná die rugoperasie in die hospitaal te herstel. Ek was aanvanklik verpletter,” het sy aan Huisgenoot vertel.

“Ek het altyd aan sport deelgeneem en ek kon my nie my lewe indink daarsonder nie. Maar iets binne-in my het geglo daar was ’n groter plan of reis wat binnekort sou ontvou; dus moes ek net vertrou,” sê sy.

Race-prep

“Gewoonlik, as jy na ’n foto van die rug kyk, kan jy die werwels met sponse tussen-in sien, maar my sponse lyk skaars soos potloodstrepe, as jy hulle wel kan sien. Ek lewe dus saam met rugpyn. Vir my het dit normaal geraak.”

Skaars ’n jaar later moes sy nog ’n struikelblok oorkom – kolonkanker in die vierde stadium is by haar pa, John Delport, gediagnoseer en hy het net drie weke gehad om te leef.

“My pa het drie maande lank geveg voor hy in Maart 2010 oorlede is.”

Keri sê haar pa het haar in daardie maande die gees van volharding geleer. “Ek het besluit dat, as hy drie maande lank vir sy lewe kon veg, kon ek ’n wedloop aanpak wat ek binne 17 uur kon voltooi,” het sy voortgegaan.

Volgens Keri was sy ’n paar maande lank plat op haar rug om te herstel, maar sy het tuis begin swem en dis toe dat sy vir haarself gesê het sy kan haar weer druk om te hardloop.

Lees ook: Vrou vertel van haar ‘verlammende vrees’ vir werk

“Ek het kragstap beoefen ten einde die krag van my kern en my rug terug te kry en het in die proses ’n halfmaraton gestap. En toe begin hardloop. Later het ek ingeskryf vir my eerste probeerslag.

“Alles gaan oor die feit dat ek gekyk het na wat ek kon doen in ’n gegewe stadium, eerder as om te fokus op wat ek nie kon doen nie. Ek het geweet waarheen ek wou gaan, ek moes net uitwerk hoe om daar uit te kom, ten spyte van die dokters se mening. Ek wou dit graag genoeg doen, dus het ek hard gewerk daarvoor.”

kERI 2

Sy het tussen 20 en 26 uur per week geoefen en terselfdertyd van Maandag tot Vrydag 10 ure per dag gewy aan haar werk as uitreikbestuurder vir Outisme Wes-Kaap.

Volgens Keri was daar ’n kort oomblik toe sy wou opgee, maar die driekampatleet het altyd haar pa in gedagte gehou.

“Om in die winter ’n paar keer per week om drieuur op te staan, is beslis nie vir lafaards nie, maar ek moes eenvoudig op my doel en droom gefokus bly,” sê sy.

Toe sy eindelik vir die eerste keer by die wegspringplek opdaag, was sy ongelooflik emosioneel.

“Ek het by die wegspringstreep op die strand gestaan en luister na die tromme, gevolg deur die volkslied en kon my trane nie keer nie. Ek kon nie glo dis besig om te gebeur nie.”

Sy het haar eerste Ysterman in 2011 binne 12 uur en 49 minute voltooi.

Lees ook: ‘Borsmelkskenking kan soveel babas se lewens red,’ sê Sue Duminy

Keri het die oorsteek van die eindstreep as “uiters emosioneel” beskryf en gesê die herinnering sal vir altyd in haar hart gegraveer wees, en sy sal onthou hoe haar ma se stem haar aangemoedig het om vol te hou.

“Toe ek om die draai kom en op die rooi tapyt kom en na die eindstreep nael, het ek in trane uitgebars. Toe ek my ma gewaar, was ek ontroosbaar. My ma het deur die versperring aan die anderkant van die eindstreep gehardloop (sy het geskree sy moes by my kom en het verduidelik dit was oor my pa) en sy het my net vasgehou. Dit was ’n onbeskryflike oomblik.”

As bestuurder van opvoeding en uitreiking by Outisme Wes-Kaap, het Keri besluit om haar Ysterman-deelname aan bewusmaking van outisme op te dra.

Sedert haar diagnose is sy, as gevolg van haar werk by Outisme Wes-Kaap, by die outistiese gemeenskap betrokke.

“Ek sien daagliks hul eie reise van volharding,” het sy opgemerk. “Om elke dag die lewe in ’n wêreld te verduur waar mense jou bloot nie ken nie, draai op die ou end net om uithouvermoë en veerkragtigheid.”

Keri het onthul haar reis van die dokter se spreekkamer tot by die eindstreep het haar een uiters belangrike les geleer: “As iemand jou vertel jy kan iets nie doen nie, moet jy dit as aanmoediging gebruik om harder te probeer.”

– Litaletu Zidepa