Haar sewejarige kind en 45-jarige man ly aan vreesaanvalle snags (sogenaamde “night terrors”). Dis erger as nagmerries en word as ’n slaapsteuring beskou.

“Hulle gil, skree en baklei in hul slaap – gewoonlik binne die eerste drie uur vandat hulle aan die slaap geraak het,” vertel Susan Mitchell* (42) van die Paarl.

Gelukkig loop hulle nie rond in hul slaap soos wat met die meeste lyers aan hierdie steuring gebeur nie.

“Dis regtig kwaai, kwaai nagmerries. Jy kan hulle ook nie sommer kalmeer nie; hulle moet self settle. Hulle sal skop en baklei – in veg-of-vlug mode. Hulle kan soggens niks daarvan onthou nie,” voeg Susan by.

“Jy skrik jou dood wanneer dit die eerste keer gebeur. Ek gee my kind soms Rescue Remedy voor hy gaan slaap met die hoop dat dit hom kalmeer. Ek probeer ook die gaan-slaap–roetine rustig hou, want ek vermoed hoe besiger sy kop is, hoe meer geneig is hy om dit te kry,” sê sy.

Haar seun het ook sensoriese kwessies en word gereeld deur ’n arbeidsterapeut behandel.

Susan het al gehoor kinders met onvolwasse senustelsels is geneig om dit te kry. Ook volwassenes wat aan posttraumatiese stres ly of dit nie ontgroei nie. “My man se weermagdae in die spesmagte is seker die rede hiervoor,” meen Susan.

Sy wil graag weet: Wat is die oorsake? Kan jy dit ontgroei?

Huisgenoot het gaan kers opsteek by kenners:

Daar is wilde teorieë. Die vervaardigers van die reeks The Ghost Inside My Child, ’n werklikheidsreeks wat op DStv wys, vertel dat baie van die kinders wat hul ervarings van vorige lewens deel dikwels sulke vreesaanvalle snags trotseer met terugflitse van ’n vorige bestaan baiekeer dekades gelede.

Deur onder meer hipnose kan hulle deur hierdie herinneringe werk en sal die aanvalle meestal verdwyn.

Lees ook: Hanteer só kinders se stres en angs

“Hul oë is oop, maar hulle is in die middel van ’n nagmerrie,” vertel Sandra Alvarez-Smith, die vervaardiger. Vir ouers is dit traumaties, want dis asof jou kind iets beleef wat jy nie kan raaksien nie, om die minste te sê – dis vreesaanjaend om te aanskou.

Van die kinders in die reeks ervaar dinge soos wreedheid in Nazi-konsentrasiekampe tydens die Tweede Wêreld-oorlog of die trauma waardeur die ontwerper van die Titanic gegaan het terwyl hy en die passasiers hul ysdood in die see ervaar toe die skip sink. Maar dis baie omstrede en daar is nie genoeg navorsing hieroor gedoen nie.

Hierdie vreesaanvalle vind plaas tydens die diep sogenaamde nie-REM slaap. Nagmerries pak jou beet tydens REM-slaap (wat staan vir Rapid Eye Movement).

Jy word makliker wakker van die laasgenoemde stadium. Die “night terror” is eerder ’n skielike reaksie op vrees wat plaasvind tydens die oorgang van een fase van slaap na die volgende.

Tydens ’n vreesaanval sal ’n kind skielik regop in die bed sit en uitroep of skree uit ontsteltenis. Kinders sal nagmerries onthou, maar met die vreesaanvalle sal hulle die volgende dag geen herinnering daaraan hê nie omdat hulle so diep geslaap het toe dit gebeur het; daar is nie prentjies om te herroep nie.

Nagmerries vind juis plaas in die REM-fase sodat jy nie met jou lyf uitleef wat in die nagmerrie gebeur nie, soos om by ’n venster uit te klim. Dis ’n beskermingsmeganisme. Maar met vreesaanvalle leef jy met lyf en siel uit wat jy beleef.

Lees ook: Hoe weet jy of jou kind dalk ’n bril moet dra?

Die meeste episodes duur een tot twee minute, maar dit kan tot 30 minute duur voor die kind of volwassene ontspan en terugkeer na normale slaap toe.

Wie word deur vreesaanvalle snags geterroriseer?

Luidens statistieke van die American Academy of Sleep Medicine word 6,5 persent van kinders en 2,2 persent van volwassenes hierdeur geteister.

By kinders:

Dit kom die meeste voor by seuns tussen die ouderdomme van vyf en sewe. Dit kom nogal algemeen voor by seuns en dogters tussen drie en sewe jaar. Daarna is dit ’n geringer probleem. Kinders wat op ’n vreemde plek slaap, kan ook snags hierdie vreesaanvalle kry. Gelukkig ontgroei kinders dit sonder psigiatriese behandeling.

By volwassenes:

Volgens die American Academy of Family Physicians is van die moontlike oorsake by grootmense:

  • posttraumatiese stressteuring;
  • bipolêre gemoedsteuring;
  • sommige depressiewe steurings;
  • algemene angssteuring;
  • middelmisbruik, veral alkoholmisbruik.

By volwassenes is die aanvalle dikwels erger en gaan gepaard met slaapsteurings soos insomnia of slaap-apnee waar jy vir ’n rukkie ophou asemhaal. In hierdie gevalle is mediese behandeling nodig. Die aanvalle sal mettertyd afneem.

Wat veroorsaak nagvrees-aanvalle?

Daar is nie duidelikheid hieroor nie, maar dit kan ontstaan weens min slaap of hoë vlakke van stres. Konflik en spanning in die huis kan ook ’n stressor wees wat vrees-aanvalle in kinders veroorsaak.

Simptome:

  • Baie skielik gedeeltelik of heeltemal wakker uit slaap;
  • skree en lyf rondgooi;
  • intense vrees en angs uit ’n onbekende oord;
  • oë wyd oopgesper en vergrote pupille;
  • vinnige asemhaling;
  • hart wat jaag;
  • verhoogde bloeddruk;
  • sweet.

Behandeling:

Kinders kan hieroor kom met troos. Ouers moenie die kinders probeer wakker maak nie, maar styf vashou en met ’n strelende stem praat tot die episode oor is. By volwassenes sal sogenaamde praatterapie werk waarin ’n terapeut saam ’n onderliggende rede soek soos iets traumaties wat jare gelede gebeur het.

Medikasie soos benzodiazepine kalmeerpille of trisikliese antidepressante word net in uiterste gevalle voorgeskryf as die kind of volwassene weens hierdie aanvalle snags nie meer ’n produktiewe en gelukkige lewe kan leef nie.

Hoe om nagvreesaanvalle te hanteer:

Ongelukkig is daar niks wat jy kan doen om dit te laat ophou nie, maar jy kan jou kind help om dit deur te werk.

  • Moenie jou kind probeer wakker maak nie.

Moet ook nie probeer om haar daaruit te “ruk” nie. Jou eerste instink is om haar wakker te roep of te skud, maar dit kan haar laat skrik en dit erger maak. Skakel ’n dowwe lig aan en praat of sing saggies vir haar tot sy wakker is.

  • Trek vir hulle ligte klere aan.

Sommige ouers wie se kinders die slagoffers van nagvreesaanvalle is, sê hulle is meer geneig hiertoe as hulle warm kry (dit kan ook nagmerries verminder). Moet haar dus nie te warm aantrek nie en maak seker haar beddegoed is ook nie te warm nie.

  • Kyk mooi na jou kind se slaaproetine

Moegheid en uitputting is groot oorsake van nagmerries en vreesaanvalle snags; maak seker jou kind is uitgerus.

  • Veiligheid

Maak die kind se kamer veilig om te voorkom dat daar beserings tydens ’n episode is.

  • Hou dagboek

Skryf neer hoeveel minute die vreesaanvalle ná die kind se slaaptyd plaasvind.

Maak hom dan 15 minute voor die verwagte aanval wakker en hou hom vyf minute buite die bed wakker. Vat hom badkamer toe om te kyk of hy wil piepie. Hou vir ’n week by hierdie roetine en kyk of dit ’n verskil maak. As daar geen verbetering is nie, spreek ’n professionele kundige soos ’n pediater of ’n slaaptegnikus.

* Skuilnaam gebruik om die minderjarige kind teen spot te beskerm.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Testikulêre kanker: Wat elke man moet weet

Identiteitsbedrog: Hier is hoe jy jouself beskerm

Verloor só gewig sonder om enige kos uit te sny

Met dié 10 kitsoplossings sal jy jou huis lag-lag skoon hou