Adv. Gerrie Nel (vir die staat) en adv. Barry Roux (namens Oscar) sal vandag in die appèlhof in Bloemfontein voor vyf regters betoog.

Die hoofregter wat in die middel van die vyf regters sit, is Lex Mpati. Hy is president van die appèlhof van Suid-Afrika en kanselier van die Rhodes Universiteit in Grahamstad.

Die ander appèlregters is Nonkosi Mhlantla, Lorimer Leach, Steven Majiedt en Elizabeth Baardman.

Mhlantla was een van drie appèlregters wat in 2010 beslis het dit is 'n verswarende faktor as 'n man 'n vrou verkrag sonder om 'n kondoom te dra. Dit was die eerste keer wat die appèlhof basies 'n boodskap aan die land se howe gestuur het dat verkragting sonder 'n kondoom verswarend is en daarom gronde is om die minimum vonnis van lewenslange tronkstraf op te lê vir verkragting.

Majiedt was in 2004 die deel van die Internasionale Krieketraad se ondersoekers na rassisme in die sport in Zimbabwe.

Nel en Roux sal na verwagting heeldag argumenteer waarna die regters uitspraak sal  voorbehou.

Dit kan die regters enige iets tussen 'n week en 'n maand neem voor hulle uitspraak sal  lewer. Die uitspraak is altyd geskrewe.