Daar word vermoed hy het sy lewe geneem nadat hy ’n stryd teen depressie gevoer het. Die komediant was een van Hollywood se mees geliefde sterre, en talle van sy vriende in die bedryf het gedeel hoe hulle oor hom voel.

“My hart is stukkend oor die verlies van ons vriend Robin Williams. Ek sê ons vriend, want hy was ’n vriend vir almal. Al wat die grootsheid van sy genialiteit oortref het, was die grootte van sy hart,” het die akteur Andy Garcia in ’n emosionele verklaring aan Justjared.com gesê. “Hy het jou altyd met sy vrygewige, aansteeklike gees omarm. Sy merkwaardige kunstigheid sal vir altyd voortleef, en as jy die ongelooflike voorreg van sy warm omhelsing al ervaar het, sal jy vir altyd deur Robin geseën bly. Rus in vrede, my vriend. Ons gaan jou baie mis.” Die akteurs was medesterre in die fliek Dead Again, wat in 1991 uitgereik is. Forest Whitaker, Robin se medester in die fliek Good Morning, Vietnam, het ook hulde aan hom gebring.

'Die wêreld het ’n spesiale siel verloor.'

“Die wêreld het ’n spesiale siel verloor. Robin het ons hart aangeraak, hy het ons laat lag, vreudge gebring, hy het ons aan die onmoontlike laat dink. Ek is geseën dat ek in sy wêreld kon leef. Hy het hierdie wêreld vir altyd met sy teenwoordigheid verander. Ek dink aan en bid vir sy familie en almal wat hom koester,” het Forest gesê.

Sterre het ook op sosiale media hulde gebring aan die legendariese ster, wat ’n Oscar gewen het vir sy rol as Sean Maguire in Matt Damon en Ben Affleck se deurbraakfliek, Good Will Hunting (1997). “Robin Williams het die wêreld laat lag en dink. Ek sal dit onthou en eer. Hy was ’n wonderlike man, kunstenaar en vriend. Ek sal hom verskriklik mis,” – die akteur Kevin Spacey. “Ek is stomgeslaan met die verlies van Robin Williams – ’n mensch, groot talent, toneelspel-maat, opregte siel.” – die akteur Steve Martin.

'Hy het so baie vir baie mense gegee.'

“Ek kan nie die nuus oor Robin Williams glo nie. Hy het so baie vir baie mense gegee. Ek is gebroke.” – die kletsprogramaanbieder Ellen DeGeneres.

Die aktrise Lindsay Lohan, sangeres Cher en die Amerikaanse president, Barack Obama, was onder diegene wat hulde aan Robin gebring het.

© Cover Media