Huldeblyke stroom in vir Philip Seymour Hoffman wat vanoggend in sy huis in New York dood aangetref is.

Die 46-jarige Oscar-wenner het oënskynlik aan ’n oordosis dwelms beswyk.

Baie bekendes bring nou hulde aan die ster wat wyd as een van die beste akteurs van sy geslag beskou is.

Mia Farrow het op Twitter geskryf: “AG NEE!!!!! Philip Seymour Hoffman is dood. ’n Waarlik sagmoedige, wonderlike mens en een van ons heel grootste akteurs.”

Die aktrise Andie MacDowell het bygevoeg: “Phillip Seymour Hoffman was nie net ’n geniale akteur nie; hy was ook ’n saggeaarde, vrygewige mens. Rus in vrede.”

Philip word oorleef deur sy lewensmaat, die kostuumontwerper Mimi O’Donnell, en hul drie kinders: Cooper (10), Tallulah (7) en Willa (5).

Die rolprentregisseur Kevin Smith was ook ontsteld oor die nuus. Hy skryf: “Dis ’n groot slag. PHILIP SEYMOUR HOFFMAN is dood . . . Hom die eerste keer in SCENT OF A WOMAN raakgesien. Skitterende akteur. Baie hartseer . . .”

Elijah Wood het geskryf: “Gebroke en geskok. Wat ’n ware verlies. Rus in vrede, Philip Seymour Hoffman.”

Die komedieakteur Jim Carrey het bygevoeg: “Liewe Philip, ’n pragtige, pragtige siel. Vir die sensitiefste onder ons kan die geraas te veel wees. Seënwense.”

Akteurs, regisseurs en gehore het Philip hoog aangeslaan. Hy het ’n eiesoortige teenwoordigheid gegee aan die rolprentrolle wat hy vertolk het in onder meer Doubt, Synecdoche, New York, Red Dragon, Almost Famous, The Talented Mr. Ripley en Capote, wat hom in 2005 die Oscar vir beste akteur besorg het.

Philip is laas op die silwerdoek gesien as Plutarch Heavensbee in The Hunger Games: Catching Fire en het voor sy dood aan die nuwe komedie-dramareeks Happyish gewerk.