Ek is seker vir almal wat hom geken het, is dit twee woorde wat ‘n magdom emosies en herinneringe oproep. Hopeloos te veel om te noem, maar genoeg dat jy onwillekeurig glimlag wanneer jy dit hoor.

Franz, die voormalige Huisgenoot buro-hoof in Johannesburg en gesoute koerantman, is gisteroggend dood. Hy het die afgelope jaar teen leukemie geveg en is uiteindelik weens ‘n longinfeksie in die Flora-kliniek in Johannesburg oorlede.

Die korrelkop het nie net diep spore in die joernalistiek getrap nie, maar in menigte joernalis en vriende se lewens.

Niemand kon Franz ken en nié deur hom geraak gewees het nie. Hy was eksentriek, hardkoppig, slim, snaaks en het ‘n neus vir ‘n goeie storie gehad soos niemand anders nie. Meer nog, hy kon die storie loskry. Van die stories wat Franz vertel het uit sy jong joernalistiek-dae, het jou eintlik na jou asem laat snak.

Soos ‘n goeie leier kon hy absoluut die beste uit jou kry. Hy het geweet wanneer om te raas en die dag wanneer hy jou getroos of ‘n kompliment gegee het, het jy geweet hy bedoel dit. En dit soos ‘n kleinnood bewaar.

Sy hart was groot en die liefde tussen hom en sy vrou, Reinet, was kosbaar om te aanskou.

Franz was en is ‘n inspirasie. Een van die tipe mense wat jy nooit wou teleurstel nie. Iemand na wie jy opgekyk en vertrou het.

En beslis iemand wat in almal se gedagtes en staaltjies gaan voortleef. En êrens waar Franz hierdie lees, sal hy nou sê:

“Lelike meisie, hou nou op met jou gesanik. Gaan drink eerder ‘n dop. Vir wat wil jy nou hartseer wees? Moeder Maria, het ek jou dan niks geleer nie!”