Maar hy is een van die legendariese figure van gholf wat vir dekades nog as inspirasie vir entoesiaste van dié sport sal dien.

Sowat 'n halfeeu gelede het hy, Jack Nicklaus en ons eie Gary Player as die Groot Drie van gholf bekend gestaan.

Einste Gary het Arnold beskryf as iemand wat met charisma "uit die bed val. Hy't nie nodig om te praat nie. Hy het dit net gehad." Jack Nicklaus, wat Arnold se grootste mededinger op die gholfbaan was, het hom in 1954 ontmoet toe hy (Jack) 14 was. Jack het in gietende reën van die gholfbaan afgeloop toe hy 'n man gewaar wat op die oefenbaan met mening sy 9-ysters rondgeswaai het. Iemand het opgemerk dat dit die verdedigende kampioen, Arnold Palmer was. Jack sê Arnold was nog steeds besig met sy oefenswaaie toe hy vertrek het.

Arnold word as een van die gewildste sportmanne ter wêreld beskou, soveel so dat hy 'n groep volgelinge gehad het wat as "Arnie's Army" bekend gestaan het. Wen of verloor, hulle het bankvas agter hom gestaan.

Dit was 'n kombinasie van sy kettingrokende persoonlikheid, daardie broek wat net altyd hoër opgetrek moes word, 'n hempspant wat gereeld rondgefladder het en die manier waarop hy die baan "aangeval" het eerder as om dit te navigeer.

Van 1958 tot 1964 verwower hy sewe belangrike titels: vier Meesters-, een Amerikaanse Ope- en twee Britse Ope-kampioenskappe.

Twitter reageer op Arnold se dood

Tien kitsfeite oor Arnold:

1. As die president van Arnold Palmer Enterprises het hy wêreldwyd toesig gehou oor die ontwerp en ontwikkeling van meer as 300 nuwe, of hergestruktureerde gholfbane. 2. Die Arnold Palmer, 'n kombinasie van ystee en lemonade, word nou onder sy naam in supermarkte verkoop. Arnold het gewoonlik dié mengsel in 'n termosfles saam met hom op die baan gehad.
3. Hy was die eerste professionele gholfspeler wat agter die kontrole van sy eie vliegtuig ingeskuif het en van toernooi na toernooi gevlieg het.

4. In 1954 het hy Winifred Walzer (19) ontmoet. Die twee het drie dae later weggeloop en was getroud tot 1999 toe Winnie, soos sy later bekend gestaan het, aan borskanker sterf.

5. Een van sy grootste teleurstellings was dat die P.G.A-kampioenskapslouere hom sy hele lewe lank ontwyk het. Een van die redes daarvoor? Sy pa was 'n lid van die P.G.A. en het hom leer gholf speel.

6. Arnold swaai vir die eerste keer 'n nr 3-yster toe hy sowat drie jaar oud was. Sy pa het hom aangeraai om hard te slaan. En hy het.

7. Sy eerste "professionele" hou slaan hy op negejarige ouderdom. Helen Fritz, 'n lid van Latrobe-buiteklub, het hom vyf Amerikaanse sent ("nickle") aangebied om haar bal oor 'n sloot te slaan. Menige vrouedae daarna het hy teen betaling vir ander vroue dieselfde gedoen, maar "party was maar stadig om te betaal."

8. Arnold het altesaam 93 toernooie wêreldwyd gewen.

9. Hy was ook die eerste professionele speler wat $1 mijoen met gholf verdien het.

10. GQ-tydskrif het hom as een van die 50 stylvolste manne die afgelope 50 jaar genoem. Esquire het hom op hul lysie van die 75-besgeklede mans ooit ingesluit.

Bronne: nytimes.com, nbcnews.com, golfdigest.com, golf.com, cnn.com