Suid-Afrika se vrydenkende visionêr. Een van die vaders van ons demokrasie. Die grootste Afrikaner van sy generasie. Die man wat ons land as president tot groot hoogtes sou kon lei – as dit sy wens was...

So het die huldeblyke ingestroom ná die dood vanVan Zyl Slabbert – die een man wat, naas oud-pres. Nelson Mandela, dalk groter respek as politieke figuur in die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika afgedwing het as enige ander van die groot seuns van hierdie land.

As daar een mens is by wie se begrafnis jy nie hoef te lieg nie, is dit Van s’n, sê Max du Preez, ’n hegte vriend van Van Zyl.

Al het hy al in 1986 die parlementêre politiek verlaat toe hy destyds as leier van die Progressiewe Federale Party uit die parlement gestap het, het Van Zyl steeds een van die invloedrykste politieke stemme in die land gebly.

“Daar is baie min Suid-Afrikaanse politici in ons geskiedenis wat kan aftree met hul geloofwaardigheid en selfrespek ongeskonde,” sê Max.

“Van Zyl Slabbert is een van hulle.”

Hy is op 14 Mei in sy huis in Johannesburg oorlede op 70 jaar – swak en afgetakel ná ’n hartaanval wat sy gesondheid twee jaar gelede geknou het, en meer onlangs volgens berigte ook weens Alzheimer-siekte en ’n lewerkwaal. Sy familie en vriende was gebroke, maar tog verlig dat sy lyding nou verby is.

En almal was dit eens dat hulle dié kolos van ’n man wil onthou soos hy in sy fleur was: vlymskerp, sjarmant, dinamies, welsprekend en bowenal beginselvas, met ’n onwankelbare geloof in ’n oop en vry gemeenskap.

Lees die volledige huldeblyk in die Huisgenoot van 27 Mei 2010