Dit was ’n reuse teleurstelling dat hulle so vroeg uitgeskakel is in die Ultimate Braai Master-wedstryd, sê die ouens van Huiskombuis Boys.

“Ons weet ons kan kook, dis waarom ons die top-15 bereik het. Ons is baie ingenome daarmee,” sê die span se braaimeester, Kyle Hodgson (25), ’n grafiese ontwerper van die Kaap.

Ongelukkig vir hom en sy braaimaat, Rudy Gibbons (30), ’n omroeper by Radio Helderberg, het hulle net tot in die derde aflewering van dié werklikheidsprogram op SABC3 gevorder. Kykers het gisteraand gesien hoe hulle hul tassies pak en huiswaarts keer.

Hulle is onkant betrap, sê Kylie. “Ons het as bygereg ’n sosatiepen voorgesit, en daarop was die kleinste stukkie wors wat jy jou kan voorstel. Ons was so bang om ons vleis oorgaar te maak, dat ons boerie rou was. Dis nogal erg. Ons hou darem steeds van ons boerie mediumgaar.” Die twee vriende het ’n voorliefde vir kos stadig gaarmaak. Hulle hou daarvan om ’n vryloop skaapboud ’n paar uur teen lae hitte te laat “confit”. Wanneer dit amper gaar is, gooi hulle ’n hand vol houtskyfies op die kole vir ’n rokerige smaak. Hiervoor gebruik hulle dikwels ’n Webber. Om saam met vriende te braai is deel van ons kultuur en DNS, meen Rudy. “Ons hou van die geselligheid en pret wat ’n vleisbraai behels. Dit gaan oor die bymekaarkom om iets te doen waarvan almal hou. Om te braai, en om terselfdertyd ’n paar koues te geniet!” V&A vir The Huiskombuis Boys (HB) 

V: Hoekom het julle ingeskryf?

HB: Rudy se meisie, Kate, het dit voorgestel. Om die geleentheid te hê om teen van die beste buitelugkokke in die land mee te ding. Om dele van ons land te sien waar ons seker nooit self sou kom nie. En om die reis van ’n leeftyd te onderneem. Geen berou nie. Ons het die lekkerste tyd van ons lewe gehad. 

Q: Wat was jul belangrikste oomblik?

HB: Elke enkele oomblik: van die oudisies tot ons uitskakeling in Jozini. Ons het die beste span ooit ontmoet en lewenslange vriende gemaak. Dit kan nooit van ons weggeneem word nie. 

Q: Wat was jul grootste vrees tydens die kompetisie?

HB: Eerste: om die eerste span te wees wat uitgeskakel word. Tweede: om uitgeskakel te word. Alles anders het ons vreesloos benader. En ons het elke oomblik daarvan geniet.

Q: Wat was die moeilikste uitdaging?

HB: Om tuna te vang, boerewors in die middel van die see te braai, in die diepsee te swem en tunageregte te skep. 

Q: Hoe hetUBM jul lewe verander?

HB: Ons het die lekkerste twee weke lange reis gehad, ware vriende gemaak, en onmeetbare kennis opgedoen, met ’n bietjie erkenning van ons kosstyl.

Q: Watter span was jul grootste teenstanders?

HB: Al die spanne was taai mededinging. Sommige is gekwalifiseerde kokke met jare se ondervinding in die bedryf. Ons is taamlik vroeg uitgeskakel en ek dink nie die wedywering het toe al ernstig geraak nie. Ons was nog net besig om pret te hê. In daardie stadium was almal in ’n mate kompetisie.