’n Vrou is Sondag aangekeer vir die moord op ’n ma van die spogbuurt Lonehill in Johannesburg.

Wilma van Tonder (42), ’n tuisblyma, is op 12 Oktober 2016 wreed met ’n mes voor een van haar twee minderjarige kinders doodgesteek, vermoedelik deur haar huishulp.

Lees ook: Seuntjies waak ure lank by Lonehill-ma se lyk, moordenaar nog soek

’n Polisie-taakspan is ná ’n intensiewe ondersoek na die Floridameer in Roodepoort aan die Wes-Rand gelei waar hulle die werknemer aangekeer het.

Die huishulp, glo van Zimbabwe en in haar laat 30’s, se identiteit is aan die polisie en die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF) bekend, maar mag nog nie bekend gemaak word alvorens sy Dinsdag haar eerste hofverskyning maak nie.

Wilma se lyk is in die gesin se huis in ’n veiligheidskompleks in Scealesweg deur lede van die GPF gevind.

Lees ook: Lonehill-ma glo deur huishulp doodgesteek; reuse-soektog onderweg

Jean Berdou, GPF-voorsitter, het bevestig dat sy in hegtenis geneem is en gesê die ondersoek is in die stadium nog baie sensitief. “Ons was vir weke lank op die uitkyk vir die verdagte en is verlig dat iemand aangekeer is,” het hy gesê.

Dr. Mario van Tonder, Wilma se man en ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, het na bewering met sy aankoms op die toneel ineengestort en moes glo by die huis uitgedra word.

’n Getraumatiseerde Mario wou destyds nie self met Huisgenoot oor sy vrou se dood praat nie.

Jean het gesê die gesin rou nog steeds oor die voorval.

Die Lonehill-inwonersvereniging (LRA) het na die voorval op sy Facebook-blad beweer Wilma was glo in ’n argument met haar huishulp betrokke waarna sy doodgemaak is.

Die huishulp het glo van die toneel gevlug. Sy het na bewering net drie maande vir die gesin gewerk.