. Maandag het ’n brand onverklaarbaar in die gesin se huis ontstaan terwyl die huishulp en die tweeling tuis was.

Die brand het op die boonste vloer van hul huis in Durban-Noord begin.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het bure alarm gemaak toe hulle rook by die boonste verdieping van die gebou sien uitborrel.

Volgens hom het medici en sekuriteitsbeamptes hulle na die toneel gehaas.

"Op hierdie tydstip het dit gelyk asof die brand tot ’n vertrek op die tweede verdieping van die huis beperk was . . . dit was die vertrek waarin die kinders was,” het hy gesê.

Die tweeling het brandwonde aan die helfte van hul liggaam opgedoen en is na die Umhlanga-hospitaal geneem.

Toe die huishulp die vlamme sien, het sy die brand trotseer en haar na die tweede verdieping gehaas. Sy het die tweeling gegryp en by die huis uitgehardloop. Die brandweer kon die brand blus voor dit na die onderste verdieping van die huis kon versprei.

“As sy die kinders later by die huis uitgevat het, kon hulle dalk noodlottige beserings opgedoen het,” het Jesse Yasudas van die brandweer aan East Coast Radio gesê.

Die huishulp is na die Addington-hospitaal geneem vir behandeling nadat sy rook ingeasem het.

Volgens Chris Botha van Netcare 911 is die tweeling steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Die oorsaak van die brand is ook nog nie bekend nie.

Bykomende bron: News24