Die vreugdevure brand vandag hoog by Huisgenoot!

600X450 image

In ons geliefde tydskrif se honderdste jaar het ons webtuiste pas in Oktober die eerste keer ’n miljoen unieke gebruikers vir die maand gelok, volgens die dataversamelaar Effective Measure. Altesaam 1 178 499 mense in Suid-Afrika het in Oktober ’n draai op huisgenoot.com kom maak.

“Dit is heerlik om sommer twee sulke mylpale in een jaar te vier,” sê Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur.

“Nie net floreer die tydskrif al ’n eeu lank op papier nie; dit dien ons gemeenskap ook nou in digitale formate. En die mense vir wie ons die meeste moet dankie sê, is ons lesers – ongeag of hulle ons inhoud op papier of op hul selfoon, tablet of rekenaarskerm geniet.

“Die lesers is ons baas en dit is ’n voorreg om vir ’n gemeenskap te werk wat so passievol voel oor baie kwessies en soveel uiteenlopende en interessante belangstellings en menings het.”

Henriëtte vertel ’n groot deel van die redaksie werk deesdae aan beide die weeklikse tydskrif en die webtuiste, waarvoor daagliks inhoud geskep word.

“Die tydskrif en die webtuiste bevat glad nie dieselfde inhoud nie. Die tydskrif het ’n eie, unieke mengsel wat die storie agter die groot nuusstories vertel, inhoud wat jy nie sommer op enige ander plek gaan kry nie.

“Die webtuiste probeer daagliks die vrae beantwoord waaroor ons gemeenskap wonder – of dit nou is wat daardie dag in die nuus gebeur; of wat jy oor staatskaping moet weet; of hoe jy jou kind deur die matriekeksamen kan help.

“Huisgenoot is al dekades lank die topverkoper-tydskrif in Suid-Afrika en ons werk hard daaraan om dit nog vir lank so te hou deur ons lesers se belangstellings te dien.

“Ons webtuiste gee ons nog ’n manier om met hulle te kommunikeer – en natuurlik kan lesers nou ook op sosiale media baie meer regstreeks en onmiddellik met ons praat. Ons sien uit na die toekoms saam met hierdie meelewende gemeenskap!”