Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, het reeds meer as R8,5 miljoen by die loket verdien en meer as 165 000 fliekgangers na die teater gelok.

Vir die Voëls is nou in die vyfde posisie op die lys van suksesvolste Afrikaanse flieks tot nog toe. Vir Altyd, Liefling, Pad na Jou Hart en Semi-Soet beklee die eerste vier posisies op die gesogte lys.

“Vir die Voëls se hoofrolle word deur opkomende akteurs vertolk, anders as wanneer dit met die ander topflieks vergelyk word. Dit maak die sukses wat die fliek behaal het, nog meer merkwaardig,” het Huisgenoot se redakteur, Henriëtte Loubser, gesê.

“Ons jong akteurs Simoné Nortmann en Francois Jacobs het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Ons sê dankie aan die vervaardiger, Danie Bester van The Film Factory, die regisseur Quentin Krog en die res van die span vir hierdie kragtoer saam met ons vennoot, kykNET-Films.

“Ons sien uit na die Vir die Voëls-DVD wat naby Valentynsdag uitgereik gaan word.”

Volgens El Broide van die tydskrif People is dit een van die beste Afrikaanse flieks van 2016 en gaan gehore beslis die fliekteaters met ’n groot glimlag verlaat. “A beautiful love story with a twist. From the very first second of the film, it was clear that ‘Vir die Voëls’ wasn’t going to be your average romantic comedy.” Die rolverdeling sluit ook in Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie.

Twitter se reaksie op Vir die Voëls