In elke joernalis se loopbaan is daar dáárdie stories.

Die hare-uit-die-kop-trek-stories, dié stories wat jou snags laat wakker lê, stories wat jou laat huil, wat jou histeries maak, woedend maak of 'n knop in jou keel laat. Soms is daar die stories wat jou 'n dag of twee vat om te skryf - want jy moet eers afstand kry van iets soos die Krugersdorp-swaardmoordenaar of Sondagverkragter jou hart uit jou bors ruk.

En dan kom daar 'n storie soos Oscar Pistorius oor jou pad. 'n Storie wat jou aan niks minder nie as 'n Griekse tragedie laat dink. Sekerlik net een keer in jou loopbaan kom so 'n storie oor jou pad? Of so hoop 'n mens amper na 'n paar dae van chaos en histerie regoor die wêreld.

"Gaan hof toe en tweet vir 'n vale," laat weet my nuusredakteur 'n dag voor sy borgtogaansoek. "Raait," laat weet ek. Die Maandagaand laat weet my kollega Asa Sokopo ons, en fotograaf Tumelo Leburu, sal vroeg by die hof moet wees. Net 26 joernaliste word toegelaat.

So begin dit:

Dinsdag douvoordag (lees 05:00) is ek uit die vere en gerat vir die hof: plat skoene, swart klere (want 'n hof is nie die skoonste plek nie) en 'n sak oor die skouer.

Net na 06:00 kry drie deur die blare kollegas mekaar by ons Sandton-kantoor en 06:40 staan ons in die ry voor die sekuriteitshekke van die Pretoria Landdroshof.

Professioneel, betyds, een van 'n handjie vol joernaliste daar en heel in ons skik met onsself. 'n Paar uitsendingsbussies met TV-spanne kamp reeds buite op die sypaadjies uit. Binne lawaai dit soos die joernaliste spekuleer oor Oscar en Reeva Steenkamp.

Soos die minute verby sleep groei die tou nie net in lengte nie, maar ook in breedte. Die een na die ander joernalis kom druk in. Mense sonder respek vir 'n ry of orde (lees TV-spanne en internasionale joernaliste) groei aan soos vratte hier langs ons.

Later is daar nie meer plek vir 'n muis nie. Ons staan letterlik soos sardientjies op mekaar gedruk. Die sekuriteitsbeamptes skree ons moet twee rye vorm - mans en vroue. Dit werk nie. Dan moet ons weer ons sakke deur die sekuriteitsband stuur. Sakke, elmboë en arms slaan jou deur die gesig. En ons is nog nie eers in die hof nie.

Deur en of ander genade druk iemand van agter en iemand hier langs my, my deur die hek. "Soos 'n skaap in my pa se drukgang op die plaas, so voel ek." Maar helaas, ek is deur.

Vier stelle trappe boontoe, al swetend, kom 'n swetterjoel joernaliste bo in 'n konferensiesaal bymekaar. 'n Landdros probeer orde skep - klim op 'n tafel en probeer almal stilmaak. Soos op 'n veiling word ons teen mekaar gebie en kry ons akkreditasie.

Eers sweef die TV-spanne deur (as jy 'n kamera het, is jy in), dan die radiostasies, die fotograwe skreeu mekaar dood om 'n plek te kry, mense begin op tafels staan en oor tafels klim en lieg van watter nuusagentskap hulle kom - want elkeen soek net 'n plekkie in die hof. Die hof kan net 60 mense met gerief akkommodeer. Honderd as hulle mense indruk. En ons is byna 200 joernaliste.

En dan, heel laaste is dit ons, die gedrukte media. Omdat jou naam op 'n lys is, glo jy jy sal in die hof kom. Toe nie!

Voor die hof is dit weer 'n samedromming. 'n Verdrukking. Erger as enige rock-konsert wat ek al ooit beleef het. Soos 'n joernalis van Fox later die week sê: "Dis erger om 'n plek in die hof te kry as kaartjies vir die Superbowl."

Van grootmense en orde is daar nie sprake nie. Maniere ook nie. Mense skree oor jou kop en stamp jou uit die pad wanneer jou naam uitgelees word. En dan mis jy jou gaatjie in die hof.

Ek blaas maar die aftog, gaan kyk wat buite aangaan, neem foto's en tweet vir 'n vale tot ek nou ook nie meer kan tweet nie.

'n Kollega in Pretoria bring versterkings: koffie en 'n toebroodjie terwyl ons teen 'n polisievangwa lê en seer voete rus.

Later het ek weer krag vir die hof. Kom ek probeer weer. Ek sien 'n gaping vanuit een hof na die volgende en vreugde - ek is in!

 Daar staan Oscar Pistorius:

Skaars 'n meter van die beskuldigdebank kry ek 'n gaatjie op die vloer. Mense klim oor jou en stamp, maar ek gee nie om nie. Ek's in die hof!

En dan sien jy hom. Dié Oscar Pistorius. Uit die aanhoudingselle kom hy met sy hande voor hom gevou in die beskuldigdebank gestap. Alleen sit hy daar. 'n Eensame, verwese figuur. Hóé gebeur dit, skiet dit die honderdste keer deur my gedagtes.

Terwyl Reeva vandag begrawe word, word Oscar soos 'n lam ter slagting hier ingelei. Die TV-kameras staan reg vir hom. 'n Legioen fotograwe wag hom in. En daar staan hy. Hy is onberispelik aangetrek. Donker pak klere. Netjiese hemp en das. Skoon geskeer.

Die hof raak stil. Sy familie se gesigte verstyf. En die fotograwe neem en neem en neem 'n kop onderstebo Oscar af. Wanneer die landdros hulle uitjaag, loop sy trane. En wraggies neem twee of drie nog foto's. Geen skaamte nie. Hulle soek die foto.

Terwyl die staat hul saak stel, kan ek nie my oë van Oscar afhou nie. Ek het nog nooit 'n mens so roerloos sien sit nie. En nog nooit een mens so onbeheersd en onbedaarlik sien huil nie. Met tye raak dit nie net vir die landdros nie, maar ook vir my te veel. Jy voel self jy gaan nou in trane uitbars.

Dan hang sy skouers, dan sy kop. Dan spring 'n spier in sy kakebeen dan ruk hy soos hy die trane inhou. Sy oë is dik geswel. Rooi gehuil sien ek wanneer hy weer afstap selle toe.

Sy pa Henke en suster Aimée se hartseer is naak oor hul gesigte geskryf. Dis vreeslik om te sien. Carl, die ouer broer, lyk na die sterker een en is ook die een wat met 'n drasak selle toe stap na Oscar toe. Hierdie familie is net so stukkend soos die een in Port Elizabeth wat vandag 'n kind, 'n vriendin, 'n suster en dogter begrawe.

 Die sirkus gaan voort:

So gaan die sirkus aan. Elke dag. Dit raak inteendeel net erger. Elke oggend daag ons vroeër op. Elke dag is daar meer joernaliste, meer kameras en meer fotograwe. Dit raak byna onmoontlik om by die hof in te kom. Elke dag is daar 'n ander proses om te volg. Die hofbeamptes is verward en deurmekaar, die joernaliste raak net meer histeries - meer koorsig.

Ons weet later nie meer watter proses om te volg om by die hof in te kom nie. Dan moet ons buite in 'n ry staan, dan weer soos troppe skape in groepe. Dan staan ons in rye en is dinge ordelik, dan word die rye ontbind en chaos breek los.

Dit maak later nie meer saak waar jy in die hof sit nie. Op 'n bankie, op die vloer, platgedruk teen 'n muur of papgedruk agter 'n hofdeur - solank jy net 'n gaatjie kry. Die selfoon se battery word pap, dan is dit weer die skootrekenaar se battery wat die gees gee. Dan draf ons van een hoek na 'n ander om sein op te vang sodat ons kan tweet. Sit jy op die grond klim en klouter hulle oor jou.

Jy drink niks, want gaan jy toilet toe kom jy dalk nie weer in nie. Dit het met 'n kollega gebeur!

Die internasionale lot is natuurlik 'n spesie op hul eie. Vertel liegstories om in te kom, steel Suid-Afrikaanse joernaliste se plekke en so suig die plaaslike media aan die agterspeen. Een joernalis het selfs 'n ander een se notaboek probeer steel, hoor ons later. . .

Daar word bespiegel, gelag en grappies gemaak en getweet. Vervaard, verwoed en aanhoudend. Die hofsaal is drukkend warm, soms kry jy nie asem nie en wil net uitgaan vir lug, maar netnou verloor jy jou gaatjie!

Die internasionale media ruik bloed;

En net wanneer jy dink jy het alles gesien, sien jy nog iets wat jou asem sommer uitslaan. Oscar kry borgtog. 'n Sug van verligting trek deur die hofsaal.

Hulle sal hom hier moet uitsmokkel, bespiegel ek en Asa. Sowaar, buit die hof staan hulle gereed. Mans met valhelms op die kop, videokameras in die hand. Afslaankapmotors met kameras teen die windskerms vasgemaak.

Hier kom 'n jaagtog, dink ek terwyl ons verby sowat tien TV-spanne stap wat lewendige uitsendings doen.

Oscar is nie net die laaste paar dae gejaag nie. Dit sal so aanhou. Die internasionale media is hier om te bly - hulle het bloed geruik.

En tussen dit alles is daar steeds Oscar en Reeva.