By Vrydagaand se gesogte ATKV-Mediaveertjies prysaand was Mieke maar die tweede ontvanger van die prys vir beste opkomende joernalis. Dié nuwe kategorie is eers verlede jaar ingestel.

Die beoordelaars het gemeen Mieke se goeie, onderhoudende skryfstyl en weldeurdagte benadering tot haar onderwerpe het van haar ’n waardige ontvanger gemaak.

Henriëtte Loubser, redakteur van Huisgenoot, vertel Mieke is ook vroeër vandeesweek deur die internasionale tydskrifteorganisasie Fipp (oftewel die Fédération Internationale de la Presse Périodique) as een van drie opkomende jong mediasterre in die wêreld vir 2016 bekroon.

Die ander twee wenners is van Time Inc en Business Insider.

“Mieke is van nature slim, veelsydig en talentvol, maar sy maak nie net daarop staat om uit te staan nie – sy werk ook ongelooflik hard en is soggens al vieruur wakker om boonop deeltyds haar regsgraad te behaal!" spog Henriëtte.

"En dan kom sy op kantoor en geen uitdaging is te groot om aan te pak en geen taak te klein om uitnemend af te handel nie. Huisgenoot is trots daarop om sulke jong talent te koester en te ontwikkel.”

Mieke, wat tans in haar tweede jaar van studie is om haar regsgraad deur Unisa te behaal, het pas teruggekeer van Londen waar sy Dinsdag die gesogte Fipp-prys ontvang het.

Op haar beurt sê Mieke sy wil graag organisasies soos Fipp en die ATKV bedank vir die harde werk wat hulle doen om die joernalistiek onder jongmense te bevorder.

"Om erken te word deur twee organisasies wat ek geweldig respekteer is ’n absolute voorreg. Dit sou nie moontlik gewees het sonder redakteurs soos dié by Huisgenoot wat belê in jong joernaliste en bereid is om hulle op te lei en touwys te maak nie.

"Huisgenoot is ’n ongelooflike, opwindende leerskool waar geen dag dieselfde as die vorige een is nie. My kollegas is van die slimste mense wat ek nog ontmoet het en ek leer elke dag by hulle.

"Dit is 'n voorreg om Suid-Afrika se topverkoper-tydskrif my huis te noem."

Lees ook op Huisgenoot.com:

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Ouers, só kan jy ’n liefde vir lees by jou kind help ontwikkel