Die oorverdowende knal van ’n skokgranaat ruk my van balans. My oë raak wasig van die skok en die knal tas my gehoor ’n paar sekondes aan. Die skerp reuk van traangas begin die soel lentelug vul. Dit brand tot hier in my binneste en my oë begin onophoudelik traan. Ek trek my hemp oor my neus en soek skuiling terwyl ’n pompaksiehaelgeweer se geknetter rondom my afgaan. Lees ook: Wat gebeur as studente nie hierdie jaar kan graadvang nie? Studente gil en begin klippe in die blombeddings optel om die polisie mee te bestook. “Grenade, grenade!” waarsku een van die studente.

Ek raak angsbevange. ’n Paar minute gelede het ek nog saam met die sowat 600 #FeesMustFall-studente in die hoofstraat van die Universiteit van die Witwatersrand gestap terwyl hulle luidrugtig betoog teen klasgeld wat verhoog gaan word. Nou is dit ’n chaos. Die reuk van swael, sweet en anargisme hang in die lug.
Ek voel as ’t ware soos ’n dier in ’n hok. Ek is in die middel van die geveg tussen die polisie en studente vasgevang. Beweeg jy na die studente se rigting word jy met traangas, skokgranate en rubberkoeëls bestook. Beweeg jy na die manne in blou, loop jy die gevaar dat ’n klip jou kan tref. In die mengelmoes van geweld duik ek in die rigting van die naaste gebou. Tussen die bome beskou ek die geweld van ’n afstand. So vinnig soos die geweld uitgebreek het, so vinnig is dit verby. Die studente soek in klein groepies skuiling terwyl die polisie, met hul gewere en onluste-uniforms, die situasie fyn dophou. Die nagevolge van die geweld begin ontvou. Tot my verbasing is my eksmeisie – ook ’n joernalis – op die toneel. Haar oë is rooi van die traansgas. ’n Gehuil klink op uit een van die stegies. “Someone’s been shot,” kom ’n stem, ’n vrou klou huilend aan twee studente vas. Sy huil onophoudelik. Hulle help haar om op ’n bankie te sit. ’n Yslike ringvormige knop is aan die regterkant van haar nek sigbaar. Sy’s deur ’n rubberkoeël getref.
“Why are you shooting us!” gil ’n ander vrou histeries. ’n Paramedikus kom om haar wond skoon te maak en begelei haar na die naaste ambulans. Sy sou nie Dinsdag die eerste slagoffer van die geweld op dié kampus wees nie.
’n Polisieman loop ook deur. Hy sak bebloed op sy knieë neer nadat ’n klip hom teen sy agterkop tref. Dit is duidelik dat hierdie oorlog slagoffers aan albei kante eis. Ook ek stap met effense bomskok weg. Nadat die gemoedere gekalmeer en die studente voor die Grootsaal vergader het, swiep ’n kwêvoël bo my kop verby. Ek kyk op en begin soos ’n kriek rondspring – ek dog dis ’n klip wat in my rigting trek. ’n Klompie studente verlekker hulle.

Hierdie is maar net een van die dae van pyn, lyding en angs. Dit is maklik om te wil kant kies as jy nie self daar is nie. Die studente meen hulle is besig met vreedsame protes en die polisie is aangesê om gewelddadige optogte te neutraliseer. Dit is nie seker wie eerste vir wie aangehits het nie, maar hierdie is beslis ’n oorlog wat nie gou gaan end kry nie.

Ná my dag op kampus het ek tot die slotsom gekom dit is in die beste belang van die studente om protes aan te teken teen onderrig wat weens finansiële omstandighede nie vir almal beskore is nie. Maar met die inflasiekoers wat aanhou styg en die feit dat ons ’n land is wat nie gratis onderrig kan bekostig nie, is ek bevrees nog baie klippe gaan deur die lug trek voor ons ’n middeweg vind.

Die vraag is net: hoeveel studente gaan nog deurloop? En gaan ons teen die einde van hierdie stryd nog universiteite oor hê?