Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl vertel van die wonderlike Siyanda, ’n skoonmaker by die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad, wat sy verlore beursie aan hom terugbesorg het.

[caption id="attachment_120008" align="alignnone" width="600"]Siyanda Soyizwaki, 'n skoonmaker by die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad, word nou benoem vir 'n prys. Foto: Verskaf Siyanda Soyizwaki, 'n skoonmaker by die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad, word wyd vir sy goeie daad geprys. Foto: Verskaf[/caption]

Verlede naweek het ek my beursie in een van die badkamers in die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad vergeet. Ek ek oral gesoek, maar niks gekry nie. Ek maak toe vrede daarmee dat dit weg is en begin my kaarte kanselleer.

Die volgende oggend kry ek ’n “Please Call Me” van ene Siyanda. Ek het nie beltyd op my selfoon nie. Pateties. Ek ignoreer dit.

Later die dag bel Siyanda my van ’n openbare telefoon af. “Mister Pieter, ek het jou beursie.” Sy geld is min. Hy moet vinnig praat. Hy is ’n skoonmaker by die winkelsentrum en het my beursie in die badkamer gekry. Hy gaan dit by die inligtingstoonbank los. My R40 is ook nog binne-in.

Ons is op Langebaan. My vriendin Misha Jordaan bel terug na die openbare foon van waar Siyanda gebel het en ná ’n gesoek aan die ander kant is Ayanda weer op die lyn.

“Jy kan maar die R40 in die beursie vat. Gaan koop vir jou ’n bier.”

“Ek drink nie.”

Siyanda Soyizwaki (34), het my naweek en baie ander s’n opgekikker. Ek plaas die storie op my Facebook-blad en binne minute is daar oor die 100 likes, 35 inskrywings met kommentaar en vyf shares. Tientalle soek sy nommer om vir hom lugtyd en geld te stuur.

Sy werkgewers, die bestuur van die V&A Waterfront, sien ook die storie op sosiale media. “Ons het ’n maandelikse beloningsprogram vir ons veiligheidswagte en skoonmakers en ek sal seker maak Siyanda kom in aanmerking vir die volgende een,” het een van die bestuurders van die winkelsentrum laat weet.

Siyanda is oorweldig deur al die positiewe reaksie.

“Dankie, Mister Pieter. Hulle [die bestuur] het selfs van my ’n foto kom neem. Ek het maar net na jou nommer gesoek op die rekeninge in jou beursie. Daar was ’n MTN-papier met jou selfoonnommer op. Toe bel ek jou maar. Dis mos jou beursie en jy moet hom terugkry.”

– Pieter van Zyl

Lees ook op Huisgenoot.com:

’n Naweek van terreur laat minstens 50 dood in twee wêreldstede

Vrou praat oor jarelange gewigstryd en hoe sy eindelik 40 kg verloor het – ‘ek sou net eet en eet en eet’

Só vermy jy kaartmisdadigers se skelmstreke

Rokers let op! Hier is waarom jy vandag nog jou laaste dampie moet slaan

Wayde van Niekerk hardloop blitsvinnig die geskiedenisboeke in

Pragfoto’s: Kyk hoe skitter SA se eie Candice Abrahams as Mev. Wêreld!